Ten spyte daarvan het Jayde se ma, Michelle Inngs en haar jonger suster, Toni Inngs wel hierdie gedeelte van die verhoor Maandag bygewoon. A.o Phillip Bekker van die Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekspan, het die misdaadtoneel waar Jayde se lyk gevind is, op 22 April 2015 besoek. Terwyl hy ontstellende besonderhede en nabyskote van Jayde op die groot skerm vertoon het, het Michelle vir Toni vasgehou.

Christopher het ook na die foto van Jayde se liggaam op die misdaadtoneel op die groot skerm gekyk. Luidens berigte het hy nie enige emosie getoon nie. Michelle het wel haar oë toegehou en net soms opgekyk. Toe Jayde se gesig van naby gewys word, het haar familie begin huil.
Jayde was ten volle gekleed en haar linkerarm is tot op haar bors gevou. Daar's 'n bloedvlek op haar sweetpakbroek en haar "hoody" is oor haar kop getrek. Daar is ook bloeddruppels op haar gesig. A.o Bekker beskryf dit as 'n aanduiding van "impakspatsels".
Die nabyskoot van Jayde se regteroor toon dat dit met bloed gevul is. 'n Klein gaatjie ("piercing") in haar oor is sigbaar.
Haar bruin hare is in 'n poniestert vasgebind. Haar regterhand het fyn modderspatsels op.
Haar armband is nog aan haar regterarm. Haar hand is in 'n vuis geklem. Volgens a.o. Bekker is die geklemde vuis 'n aanduiding dat sy reeds in daardie posisie was voor sy geskiet is. Hy noem dat dit 'n gereelde verskyning is tydens selfdood en motorongelukke. Dis te wyte aan die erge trauma wat ervaar word.
Buiten haar armaband, is Jayde se silwer horlosie ook nog steeds aan haar linkergewrig.
Die volgende wat vertoon word, is die koeëlwonde aan Jayde se lyf. Insek-aktiwiteit rondom haar naeltjie dui op 'n oop wond. A.o. Bekker dui aan dat hy vermoed daar moes een of ander besering naby Jayde se naeltjie gewees het.
Jayde se onderklere is onaangeraak. Die hof sien 'n foto van Jayde se agterkop. Dit is met bloed deurdrenk. Die nabyskote waar die koeëls haar rug binnegedring het, word ook aan die hof gewys.
Die wond is met modder gekoek. Daar is bloeddruppels op Jayde se wit Nike-tekkies. Die afstandbeheer, vermoedelik van die kompleks waar hulle gewoon het, steek by haar sak uit. Nadat Jayde se liggaam verwyder is, bly daar nog iets agter: 'n bloedkol waar haar kop was.

Die saak gaan Dinsdag, 1 November om 09:30 voort.