Prinses Charlene se skattige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, is deesdae net so bedrywig met koninklike pligte soos hul beroemde ouers!

Charlene (38) en prins Albert (58) van Monaco se tweejarige tweeling het die koppe laat draai toe hulle onlangs vir die eerste keer saam met hul ouers die Monegaske se jaarlikse Kerspartytjie by die paleis bygewoon het. Hul gaste was 600 opgewonde kinders. Die partytjie was net dae nadat die tweeling op 10 Desember hul tweede verjaardag met ’n prettige safari-partytjie geniet het.

Die skattige tweeling en hul styvolle ma, geklee in ’n rooi baadjie, grys broek en silwer Jimmy Choo skoene, was ongetwyfeld die sterre van die dag. “Die prins en prinses was ongelooflik,” vertel iemand wat daar was aan die glanstydskrif People. “Die Monegaske kinders het na hulle toe gekom, spontaan na Jacques toe, en hulle het die beste tyd gehad.”

Die oomblik was egter te groot vir die skattige Gabriella. Dié het op ’n kol in trane uitgebars toe sy Kersvader ontmoet en iemand in ’n wit konyn-kostuum gewaar. Sy het toe reguit op haar ma afgepyl, wat haar vertroos het. Die kleinding het die partytjie vroeg verlaat en die amptelike fotosessie gemis. Haar boetie, prins Jacques, het hom gate uit geniet en foto’s met tot ’n sneeuman en Kersvader geneem terwyl sy trotse ouers toegekyk het.

“Hy is ’n baie nuuskierige outjie. Hy was aanvanklik ook geïntimideerd deur die groot Kersvader en ook bang vir die skare wat al die geraas maak. Hy het aanvanklik in sy pa se arms gegaan en toe het hy dapperder geraak en die hele tyd gebly.”

“Prinses Charlene was in ’n goeie bui,” vertel die bron. “Sy het dit baie geniet.”

Albert se jonger suster, prinses Stéphanie (51), se 24-jarige seun, Louis Ducruet, en jongste kind, Camille Gottlieb (18), was ook daar om hul oom en tannie te help om geskenke uit te deel.

Albert se ouers, prinses Grace en prins Rainier III, het in die sestigerjare die Kerspartytjie begin as ’n manier om die Amerikaanse rolprentster-prinses aan die kinders van Monaco bekend te stel. Elke kind kry by die jaarlikse kinderpartytjie elk persoonlik ’n geskenk by ’n lid van die gesin.

Vanjaar was daar tot ’n kulkunstenaar wat die kleingoed vermaak het voor hulle met geskenke bederf is. Onder die geskenke was van Luke Skywalker Lego-stelle tot poppe en hommeltuie met kameras.

Bronne: People.com, Dailymail.co.uk, Hellomagazine.com