Claire het Sue se hand vasgehou en gehoop sy sal deurdruk terwyl haar man, Robert Lynn, ’n paar meter verder in dieselfde hospitaal ook om sy lewe veg.

“Sue was so ’n sterk mens. Sy sou wou gehad het die wêreld moet sien wat met haar gebeur het,” het Claire aan die Middelburg Observer gesê.

Drie mans het Sue en haar man Sondagoggend in hul huis op Dullstroom in Mpumalanga oorrompel. Hulle is met ’n blaasvlam gemartel en langs die pad naby Belfast vir dood agtergelaat.

Twee verbygangers wat op pad was na ’n visvangekspedisie het Sue (64) kaal en met ’n plastieksak in haar keel in die veld gekry. Sy was in ’n koma in die Life Midmed-hospitaal op Middelburg, maar het vanoggend om elfuur gesterf.

Robert is ’n paar keer met ’n mes gesteek en dokters moet nog ’n koeël uit sy nek verwyder.

Die egpaar het nooit kinders gehad nie. Hulle is oorspronklik van Engeland.

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie op Middelburg het bevestig hulle het die egpaar se Nissan Hardbody-dubbelkajuitbakkie, waarmee die verdagtes vort is, by ’n plaaslike kroeg gekry.

Die bakkie is intussen gestuur om forensies ondersoek te word.