“Dokter het nou terugvoering gegee. Kristian is baie kritiek. Op hierdie stadium is daar geen brein aktiwiteit nie,” het sy pa Herman Prinsloo op Facebook geskryf.

Kristian het verelde naweek by familievriende se plaas op Ellisras gekuier toe een van die eienaars se “mak” leeus hom aan die keel gegryp het.

Sy ouma wat saam met hom op die plaas was, het ingetree en vir Kristian gered.

Kristian is tans in die waakeenheid in die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria aan ’n ventilator gekoppel.

“Ek vra dat almal sal intree vir Kristain en aanhou bid dat God se wil sal geskied en dat dit Sy wil is dat Kristian se brein sal begin funksioneer en dat hy volkome sal herstel,” sê Herman.

“Ons as gesin weet nie hoe om almal te begin dank vir al die gebede, boodskappe en ondersteuning nie,” het Herman gisteraand op Facebook geskryf.

Kristian is steeds kritiek maar volgens Herman het sy bloeddruk en temperatuur verbeter en die eerste prioriteit is steeds die swelling op sy brein.

Kristian het ook twee gekraakte nekwerwels.

“Alle eer aan ons Hemelse Vader en mag hy elke gebed, hand, boodskap en gedagte honderdvoudig seën,” sê Herman.