Hy kon een van sy laaste wense vervul deur met sy droombruid, Nina van Rooyen Saunders, te trou. Al was dit in die hospitaal op sy sterfbed. Jason Saunders het Maandag sy stryd teen kanker verloor.

troue

Jason en Nina se plan was om vandag, Dinsdag 8 November, dieselfde dag as Nina se 27ste verjaarsdag, te trou. Maar toe word Jason siek en word hul trouplanne totaal omvergegooi.

“Al verjaarsdagwens wat ek gehad het, was om met my kop op sy bors te lê en na sy hartklop te luister,” vertel ’n emosionele Nina aan Huisgenoot. Haar stem is so sag en seer, dis moeilik om te hoor wat sy oor die telefoon sê. Dit breek jou hart.

Vroeg Maandagoggend was daar nog hoop. Maar net ’n paar uur later is Jason weg en is Nina ’n jong weduwee. Die paartjie is 27 Oktober getroud. Hulle wou nie meer wag nie, want hulle het geweet die lewe is te kort.

“Ons trou in die hospitaal, want hy sal die kanker oorwin,” het sy vroeër gesê. Hulle sou dan later behoorlik in die kerk trou sodra hy op die been is.

Maar Maandag in die ouderdom van 32 het Jason sy stryd teen kanker verloor in die kliniek in Durbanville naby Kaapstad.

“My geliefde man, ’n broer, seun, beste vriend vir baie, is vreedsaam oorlede vandag 7 November 16:25,” het sy die hartseer nuus op Facebook aangekondig. “Familie en vriende het van heinde en verre gekom om Jason te ondersteun in sy stryd teen hierdie hertverskeurde siekte. Dit is duidelik hoe baie lewens hy geraak het met sy borrelende persoonlikheid en sorgsame geaardheid,” skryf sy verder.

Lees ook: Kaapse vrou trou in hospitaal met ernstige siek man want ‘die lewe is te kort’

Jason en Nina is al drie jaar saam. Hulle het verlede Oktober ’n huis saam gekoop. “Ons het so uitgesien na ons lewe saam,” vertel Nina, ’n inwoner van die Kaapse buurt Tableview.

[caption id="attachment_144565" align="alignnone" width="600"]Jason en Nina saam in Thailand. Jason en Nina saam in Thailand.[/caption]

Sy en Jason het mekaar destyds by die werk ontmoet. Hulle het vir dieselfde telekommunikasie-firma gewerk. Maar sy het egter bedank om na hom om te sien en om soveel tyd saam met hom te spandeer as wat sy kon.

Jason is in Maart met ’n erge, agressiewe en terminale vorm van breinkanker gediagnoseer. ’n Noodoperasie is gedoen om die gewas te verwyder en hy moes bestraling en chemopterapie ondergaan.

“Die dokters het hom toe net ’n paar maande gegee om te lewe,” onthou Nina. “Hulle het gesê dis die mees agressiewe gewas wat die vinnigste gegroei het wat hulle al ooit teëgekom het. Maar ’n MRI-skandering in Julie het gewys die gewas het gekrimp en hy hoef eers in Oktober terug te kom.

“Dinge het begin positief lyk en ons het 1 Augustus verloof geraak.”

Hulle sou in die NG Kerk in Bloubergstrand trou. Alles was bespreek.

Maar toe begin Jason kla van ondraaglike rugpyn, daaglikse nekspasmas en braking. Toe ’n skandering verlede maand gedoen word, het dit gewys sy kanker het na sy ruggraat versprei. Nog ’n reeks bestralings, chemoterapie en ’n operasie het vir hom voorgelê.

Maar toe sterf hy so vroegtydig, dit is nooit uitgevoer nie.

“Jason het my geleer om positief te bly. Mense se gebede het ons dra. Dankie daarvoor,” het Nina vertel. Weens al die behandeling was sy mediese fond uitgeput.

“Ek wag nog vir die rekeninge om op te daag om te sien hoeveel ons nog skuld,” vertel sy. “Ons is binne gemeenskap van goedere getroud. Ek weet nie wat gaan gebeur en hoe dit gaan werk nie. Alles is so rou en deurmekaar op die oomblik, ek het nog nie daaraan kon dink nie.”

Weldoeners het sover al ongeveer R77 119 geskenk in ’n internet-trustfonds wat die paartjie opgerig het.

“Ons is so dankbaar dat mense aan ons dink in hierdie tyd...En steeds aanhou om te bid en boodskappe van medelye te stuur...Ons kon nie wag om in die kerk te trou nie,” sê Nina.