jessica-main

Die pa van Jessica Whelan, die vierjarige neuroblastoomlyer van Oswaldtwistle in Lancashire, Engeland, het die nuus van Jessica se dood met “droefheid, maar ook verligting” gedeel.

“Jessica het eindelik sewe-uur vanoggend vrede gevind,” het Andrew Whelan Sondag op haar Facebook-bladsy geskryf.

“Sy ly nie meer nie; sy voel nie meer die pyn van die liggaamlike gestremdheid aan haar lyf nie. My prinses het nou haar engelvlerke gekry en sy het opgegaan om by haar vriende en geliefdes gaan speel.”

“Sy sal nou oor ons en haar boetie waghou totdat ons weer eendag verenig word.”

Jessica het enkele weke gelede die hoofopskrifte gehaal toe Andrew die tragiese foto van sy dogter geplaas het waarop sy ineengekrimp is van pyn. Dit was sy poging “om die waarheid en die werklikheid van ’n situasie te weergee”.

“Dit is die ware gesig van kanker,” was die byskrif by die foto, wat sedertdien meer as 17 000 keer gedeel is.

“My babadogtertjie se bloedvate staan uit onder haar vel, ’n enkele traan rol teen haar wang af, haar lyfie is styfgetrek en haar gesiggie verwronge van pyn.

“Hierdie foto is geneem op ’n oomblik toe ons as ouers haar geen troos kon bied nie en sy ons weggestoot het terwyl sy alleen hierdie verterende pyn die hoof gebied het. Dit is ongelukkig nie ’n gesig wat ons as gesin selde sien nie. Dit is nou ’n bekende gesig wat ons dag en nag gereeld sien en dit kom nou al meer dikwels voor.”

Die brawe Jessica is Sondagoggend oorlede nadat sy geveg het teen stadium vier-neuroblastoom, ’n aggressiewe tumor van die senustelsel wat dikwels by kinders voorkom.

Andrew (30) en Jessica se ma, Nicki Pendergast (28), het die Facebook-blad Jessica Whelan – A Fight Against Neuroblastoma in Oktober begin om geld in te samel om Jessica se mediese koste te dek en “aan Jessica soveel geluk en vreugde as moontlik te gee” in die kort tydjie dat sy by hulle was.

Luidens Metro online het meer as 3 300 gebruikers sowat R1,33 miljoen ingesamel, wat die gesin nou aan ’n program vir kankernavorsing by kinders gaan skenk.

Die Whelan-gesin het ’n petisie van stapel gestuur om die Britse regering te vra om kinderkanker voorop te stel in hul befondsingskemas, in die hoop dat ander gesinne gehelp kan word.

Volgens The Guardian, het meer as 114 000 mense die petisie onderteken. Dit oorskry dus die drempel van 100 000 wat nodig is vir ’n saak om in die parlement bespreek te word.

Die vergadering is vir 28 November 2016 gereël.