Die polisie ondersoek ’n skietvoorval wat Vrydagoggend omstreeks agtuur in Meyerton plaasgevind het. Twee mans is dood.

Dit het by ’n fabriek in Gallowaystraat plaasgevind, het die nooddiens ER24 in ’n verklaring gesê.

Nooddienste is na ’n brandweerstasie naby die fabriek ontbied. ’n Man, vermoedelik in sy 40’s, is agterin ’n motor aangetref. Hy het veelvoudige skietwonde gehad en reeds beswyk. Die nooddienste het hom op die toneel dood verklaar.

Kort daarna is nooddienste ontbied na die fabriek waar die skietvoorval vermoedelik vroeër die oggend plaasgevind het. Hier is ’n man in sy motor gevind. Hy het bo-oor die stuurwiel gelê en ’n noodlottige skietwond aan sy kop gehad. Hy is ook op die toneel dood verklaar.

Die man by die fabriek het na bewering die ander man geskiet en toe homself. Die twee was glo sakevennote. 'n Saak van moord en selfdood word ondersoek, het konstabel Maria Letsele aan Huisgenoot bevestig.

"Die familielede van die slagoffers is in kennis gestel en is in geweldige skok. Die toneel word nog ondersoek en ons sal na verwagting eers Maandag die name van die twee slagoffers bekendmaak."