[caption id="attachment_166220" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie (wikimedia.org) Foto ter illustrasie (wikimedia.org)[/caption]

Ses mense is dood in ’n ongeluk in Inanda, noord van Durban, toe ’n bestuurder van ’n taxi met 17 passasiers beheer verloor en die voertig in ’n rivier gestort het.

Die polisie het op Twitter bevestig nege ander mense is in die voorval beseer.

In ’n tweede voorval is ’n saak van strafbare manslag geopen nadat vier mense dood is toe ’n wipvragmotor en ’n taxi in Southport, Port Shepstone, gebots het.

Die ongeluk het by die berugte “selfmoorddraai” in die Southport-area gebeur, sê kapt. Nqobile Gwala.

Sy sê dit het om ongveer 07:00 in reënerige en nat padtoestande gebeur.

Agt ander passasiers in die taxi is beseer en hospitaal toe geneem.

“Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek,” sê Nqobile. Sy voeg by die bestuurders van die taxi en vragmotor het ongedeerd daarvan afgekom.

Twee mense is dood toe ’n taxi waarin hulle was verskeie keer op die M13 naby die Westwood Mall gerol het.

Die ongeluk het om ongeveer 06:00 gebeur. Vyftien mense is beseer en na verskeie hospitale in Durban geneem, sê Ceron Lennox van Rescue Care.

En om Vrydagoggend om ongeveer 05:13 is ’n passasier dood toe ’n taxi op Chris Hani-weg in Parkhill, Durban, van die pad geswenk en omgekeer het.

Verskeie ander is beseer en na verskillende hospitale geneem, sê die Netcare 911-woordvoerder Chris Botha.

Bron: News24