Die wesies is Maandagaand op die privaat wildplaas in KwaZulu-Natal aangeval. Die werknemers is tydens die voorval aangerand en een van die vroulike werknemers is na bewering onsedelik aangerand.

Volgens Yvette Kaylor, bestuurder van die renosterweeshuis, het die stropers toegang tot die perseel verkry deur een van die heinings te knip.

“Dit is ’n absolute tragedie wat hier gebeur het,” sê sy.

“Die stropers het dit reggekry om twee van die kalfies se horing te steel.

“Een van die kalfies is onmiddellik doodgemaak en die ander een het ’n dag lank oorleef voor hy van kant gemaak is.”

Yvette wou nie kommentaar lewer oor die vrou wat na bewering onsedelik aangerand is nie.

“Die ondersoek duur voort,” sê sy.

Yvette was in Durban toe die voorval gebeur het.

Die renosterweeshuis is die eerste van sy soort in KwaZulu-Natal. Dit sien om na renosterkalfies wat wees gelaat is nadat hul ouers deur stropers doodgemaak is.

Die nuutste statisitieke deur die Stop Rhino Poaching-trust dui daarop dat 1 080 renosters verlede jaar gestroop is. Vir 2017 staan die nie-amptelike syfer reeds op meer as 10.

Volgens die polisie is twee mans met ’n jaggeweer in Ermelo vasgetrek.

“Nog inhegtenisnemings volg binnekort,” het ’n bron gesê wat betrokke is by die polisieondersoek.