[caption id="attachment_148819" align="alignnone" width="600"]Hennie de Vos (Foto: Facebook) Hennie de Vos (Foto: Facebook)[/caption]

Hennie de Vos (31), wat in ’n kunsmisfabriek op die buurdorp Petrus Steyn gewerk het, het sy nek gebreek. Hy is op die toneel dood.

Huisgenoot het verneem Hennie en twee vriende was agter op die bakkie en twee was binne die bakkie toe hulle op die plaas die aand op ’n wildrit gegaan het. Die vriende het gaan wild kyk toe die bakkie glo op ’n wal gegly en Hennie afgeval het. Hennie was volgens diegene wat hom geken het ’n stil mens.

Huldeblyke het sedert die ongeluk op sy Facebook-blad ingestroom.

Gert Claasen, ’n boer van Petrus Steyn en ’n hegte vriend van Hennie het ná die ongeluk op Facebook geskryf: “Vanaand gaan my hart uit vir Hennie de Vos se familie. Hennie is gisteraand in ’n fratsongeluk oorlede. My gebede is met sy familie en mag jul vertroosting vind by God ons almagtige Vader. Ons gaan jou baie mis ou Hennie.”

Gert het op Facebook aan iemand gesê die bakkie het by ’n damwal gegly en Hennie was agterop.

Bees Claassen, nog ’n vriend, het op sy Hennie se Facebook-blad geskryf: “Toe ek jou gisteroggend bel het ek nooit gedink dit gaan die laaste keer wees wat ons oor kunsmis praat nie. My hart is seer jy was my goeie vriend en kollega. High Fert sal nie weer dieselfde wees nie en ons rugbyligapraatjies en jy wat my laat duik op die veld sal ek vir altyd by my hou!! Jy was ’n yster! Ek gaan jou mis Hennie de Vos! Rus in vrede!”

Hennie, wat Saterdag 22 Oktober verjaar het, se roudiens sal Donderdag op Steynsrus naby sy ouers gehou word. Hy word veras.

Die familie het versoek dat hul privaatheid in die moeilike tyd gerespekteer word.