Hulle wou vir Jesus ’n verjaarsdagpartytjie reël.

Derduisende liggies en talle uitbeeldings van die Kersverhaal later, en Jesus vir sy verjaardag op Vrede.

Alles het op ’n aand in Junie begin toe Eric en Charlotte gesit en gesels het oor Joubertpark wat Johannesburg se stadsraad jare gelede oor die Kerstyd in ’n liggieparadys omskep het.

“Dit was so ’n wonderlike tyd toe gesinne in die park kon gaan stap. Daar was narre en steltlopers en liggies,” sê Eric.

“Ek sê toe vir Charlotte, kom ons doen dit op Vrede. Ons het eers gedink om dit in ons tuin te doen, maar het toe daarteen besluit.

“Ons het toe een oggend al die dominees om ’n tafel in ’n restaurant gekry, van ons idee vertel en gevra of hulle in is. Die meeste het ingekoop.”

Toe het die Vrede-gemeenskapsprojek begin. Die doel was dat inwoners ’n plek kry waar hulle kan gaan liggies kyk oor die Kerstyd, om Jesus se geboorteverhaal uit te beeld en mense die geleentheid te gee om geld te maak.

Om geld te kry om liggies aan te koop is kaartjies verkoop om ’n week lange vakansie op Swakopmund te wen. Die res van die liggies is geskenk.

Maande lank is daar gewerskaf om alles gebou te kry. Voorverlede naweek is alles op die kerkterrein aanmekaargesit. Net aan die kerkgebou is 260 m touliggies gebruik. Daar is sowat 50 verskillende diere, klokke, sleë en nog uitbeeldings.

20131118_091027

20131118_090817

Van die uitbeeldings is hoe die engel aan Maria verskyn het, Maria en Josef se reis na Betlehem, die herberg waar Jesus gebore is, die engel wat aan die herders verskyn het en die kindjie in die krip. Hulle het ook ’n 13 m hoë boom opgerig met ’n ster aan die bopunt.

20131118_090518

Die afgelope Vrydag is die liggies aangeskakel. Daar is aktiwiteite vir mense aangebied terwyl ander weer in stalletjies lekkernye verkoop het. Die naweek is die Sondagaand met ’n Kerssangdiens afgesluit wat deur meer as 700 mense bygewoon is. Tydens die diens het hulle ook aan 210 kinders geskenkies gegee.

Eric sê hy skakel die liggies elke aand van halfagt tot halfnege aan en dan elke naweek. Tussendeur gaan daar ook Kerspartytjies gehou word vir huishulpe op die dorp asook plaaswerkers.

“Dis ’n boodskap van hoop vir mense. Dit is iets wat mense nog nie gesien het nie.”

- Hilda Fourie