[caption id="attachment_61513" align="alignnone" width="600"]1702dmknewnew12 Gallo Images/AFP[/caption]

NELSON MANDELA het mense geïnspireer om te vergeef, versoen, om te gee, om onselfsugtig en verdraagsaam te wees, en om waardig te wees ongeag die omstandighede.

Ek kan dit bevestig want dis die maniere waarop hy die afgelope 19 jaar my lewe verander het. Ek is geseënd en geëerd dat ek die voorreg gehad het om hom te dien.

Ek het dikwels swaargekry onder die meedoënlose druk. Maar dan ek het gekyk na hom en al sy grasie en energie. Ek is nooit weg nie, ek kon nooit nie.

Nelson Mandela het nie lojaliteit vereis nie, maar hy het diep en onwrikbare lojaliteit geïnspireer in almal wie se lewe hy aangeraak het.

En nou, terwyl ons rou oor die vertrek van Madiba, raak ek stadig gewoond aan die gedagte dat ek hom nooit weer sal sien nie.

Maar helde sterf nooit nie.

So hartseer as wat dit my maak dat ek nooit weer ’n vertrek sal binnestap en sy breë, aansteeklike glimlag sal sien nie of hom sal hoor sê “O, Zeldina, jy is hier” nie, het ek vrede daarmee gemaak dat Madiba se nalatenskap nie van sy teenwoordigheid afhanklik is nie.

Sy nalatenskap sal nie net voortleef in alles wat na hom genoem is nie – die boeke, die afbeeldings, die rolprente. Dit sal ook voortleef in hoe ons voel wanneer ons sy naam hoor, die respek, die liefde, die eenheid wat hy in ons as ’n land geïnspireer het, maar in die besonder hoe ons met mekaar omgaan.

Madiba sal altyd in my lewe teenwoordig wees want hy het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek sal elke glimlag koester, die aangename maar ook die moeilike tye, en veral my kaalvoet-oomblikke.

Dankie vir al die wonderlike geleenthede wat jy my gebied het, maar dankie bowenal dat jy in my geglo het, Khulu, en my ’n beter mens, ’n beter Suid-Afrikaner, gemaak het.

Tot weersiens, Khulu! Ek sal elke dag van die res van my lewe vir jou lief wees.

- Zelda

Zelda picSMALL Zelda la Grange het gewerk as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.