Die verloofde van Ludi Vink (30), wat verlede week dood is nadat hy in ’n kroeggeveg met ’n snoekerstok in die oog gesteek is, het Dinsdag saam met familie en vriende van hom afskeid geneem.

Ná ’n gedenkdiens in die Newmarket Methodistekerk in Johannesburg is die roubeklaers saam na ’n kuierplek waar hulle ’n bier ter ere van Ludi gaan drink het. Ludi en Clare Boadle (25), ’n Australiër, het skaars twee maande gelede verloof geraak tydens ’n vakansie in Bali. En nou sit Clare in ’n vreemde land en neem afskeid van haar sielsgenoot en beste vriend.

A post shared by lyudon (@lyudon) on

Clare moet reeds Woensdagoggend terugvlieg na Melbourne, Australië, waar sy werk as ’n finansiële adviseur. Wanneer sy in April weer Suid-Afrika toe kom, sal sy Ludi se as en ’n branderplank kom haal. Sy wil die as in in die see by Jeffreysbaai gaan strooi en die branderplank in ’n plaaslike kroeg daar ophang.

“Jeffreysbaai is ’n besonderse spesiale plek vir ons, want dit is waar alles begin het,” het Clare aan Huisgenoot.com gesê.

Die paartjie het op 3 Januarie vanjaar op Clare se 25ste verjaardag verloof geraak en het daarna uitgesien om later volgende jaar voor die kansel te staan.

“Ludi se dood is steeds so onwerklik, ons het nog nou die dag van trou gepraat.

“Ons probeer maar besig bly en vat elke dag soos dit kom. Die hele familie vat die slegte nuus maar swaar, veral sy ma, Danlee. Juis omdat sy saam met hom was daardie noodlottige aand.”

Clare het Ludi in Februarie 2015 tydens ’n vakansie op Jeffreysbaai ontmoet. Kort na die vakansie het Ludi ’n besoekersvisum vir Australië gekry en hom by haar in Melbourne gaan aansluit, waar die liefde verder geblom het.

Nadat sy besoekersvisum verval het, moes hy in September verlede jaar na Suid-Afrika terugkeer om sy visum te hernuwe.

[caption id="attachment_161337" align="aligncenter" width="600"]Clare en Ludi verlede jaar by Bondi Beach. Foto: verskaf Clare en Ludi verlede jaar by Bondi Beach. Foto: Verskaf[/caption]

“Ons sou weer in April gereis het om mekaar te sien,” verduidelik ’n emosionele Clare in haar Australiese aksent. Die paartjie het die afgelope Kersfees ook in Bali deurgebring. “Ludi was ’n vrygees, mal oor reis. Hy het my oë oopgemaak vir nuwe ervarings. Ek sal daardie eienskap van hom altyd koester.”

Sy vertel hy het op ’n dag haar orgaanskenkingskaartjie in haar beursie gesien en toe ook besluit om al sy organe te skenk. “Dit was eintlik so mooi, hy het amper opgewonde oor doodgaan geklink. Die idee dat hy iemand anders se lewe kon red, was vir hom kief”.

En sy hart is toe verlede week (24 Februarie) kort na die afskakeling van sy ondersteuningsmasjiene na Kaapstad gestuur vir ’n pasiënt.

“Dit het gebeur nes hy dit wou hê.”

Clare vertel hoe sy ná die kroegaanval tydens haar 30 uur lange vlug op pad Suid-Afrika toe gebid het dat hy bly lewe. Maar toe sy eindelik by die hospitaal aankom, was die liefde van haar lewe reeds breindood en moes sy hom groet.

“Dit is ironies, ons almal sit en treur oor hom, maar as hy nou hier was, sou hy iets sê soos ‘chill out’. Hy het regtig ’n pragtige siel gehad. Ludi Vink, baie dankie vir die besonderse avontuur,” het Clare gesê.