MET sy ondeunde glimlag het hy diep in die harte van Suid-Afrikaners van alle kleure en geure ingekruip – g’n wonder hy is in 2005 al as die gewildste sportman in die land aangewys nie.

Makhaya Ntini (33) is ’n rolmodel vir alle Suid-Afrikaanse jongmense van nederige afkoms wat gewonder het of hul drome oor die hoogste spits in internasionale sport nie maar net drome sou moes bly nie. Hy’t dit reggekry; hulle kon ook!

Hy was ’n voorbeeld in alle opsigte – pynlik hardwerkend, ’n man van selfdissipline, op sy dag waarskynlik die fiksste krieketspeler in die land. Boonop het hy met bal en kolf ingespring om arm mense van die platteland op te hef.

Hy was ook die eerste swart speler wat ná die afskaffing van apartheid vir die nasionale span gekies is. Dit was in 1998, en twaalf jaar later, op 9 Januarie, het Makhaya by die Moses Mabhida-stadion in Durban vir die laaste keer in die Proteas se kleure op die veld gestap om voor ’n skare van 50 000 teen Indië te speel. Agterna het Krieket Suid-Afrika hom met ’n spesiale medalje vereer.

Die Mdingi Express het dalk amptelik uit internasionale krieket getree, maar sy invloed op die spel sal bly voortleef.

“Dit was vir my ’n wonderlike reis om my land te verteenwoordig. Ek het soveel goeie herinneringe wat ek die res van my lewe met my sal saamdra,” sê hy. “My loopbaan is nog glad nie verby nie. Dit beteken net dit het internasionaal tyd geword om my stewels op te hang.”

Hy het in November 1995 tot eersteklas-krieket toegetree toe hy vir Suid-Afrika se o.19-span teen Engeland op die veld gestap het. En die jong Makhaya het gou sy merk gemaak toe hy sy eerste internasionale paaltjie gevat het.

Drie jaar later het hy sy internasionale eendagdebuut in Perth teen Nieu-Seeland gemaak en gewys hy is ’n krag om mee rekening te hou toe hy die kaptein, Stephen Fleming, en die paaltjiewagter, Adam Parore, uitgeboul het.

Raymond Booi, krieketontwikkelingsbeampte van die Grens, het hom op die dorpie Mdingi in die Oos-Kaap ontdek. Toe Raymond ’n rooi balletjie in die jong veewagter se hande sit, het hy geweet hy het goud raakgeboor. Hy was verstom toe die 10-jarige snuiter die bal met die spoed van wit lig na die paaltjies gooi.

Hy het sy vonds beskryf as “jonk, ru en wild, maar uitsonderlik rats” en dadelik vir Makhaya plek gereël by Dale College in King William’s Town. Toe hy op 14 vir sy eerste skooldag opdaag, kon hy nie ’n woord Engels praat nie . . .

Toe hy vir die nasionale span gekies is, was daar ’n gemor dat dit ’n ras-keuse is, maar hy het gou sy kritici stil gespeel.

Die jaar 1999 was ’n donker een: Hy is skuldig bevind op ’n klag dat hy ’n jong vrou by die Buffalopark-krieketveld in Oos-Londen verkrag het, en tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar die appèlhof het sy onskuld bevestig.

Daardie dae voel seker nou vir Makhaya (33) baie ver weg, en sedertdien kon hy voortgaan met ’n rekord-besaaide loopbaan van 12 jaar.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 20 Januarie 2011