’n Tornado het Dinsdagmiddag ’n pad van verwoesting gesaai toe dit die Eilandsmeer-vakansieoord naby Chrissiesmeer getref het.

Daar was geen genade vir drie woonwaens, ’n houthuise en die ablusieblok nie. ’n Nabygeleë woonhuis se dak het ook in die slag gebly.

Die tornado het glo eers Chrissiesmeer getref voor dit koers gekies het na Eilandsmeer.

Neville Adams (67) en sy vrou, Ellie (66), het aan die Highvelder gesê die vakansieoord was hul enigste bron van inkomste.

Hulle het die oord ’n paar jaar gelede tot stand gebring om voorsiening te maak vir hul aftrede. Boonop was die oord glo volbespreek vir die Desembervakansie wat voorlê.

“Nou bly daar niks oor nie, en ons sal van vooraf moet begin,” het hy gesê.