Dis nadat sy gekritiseer is omdat sy Katie Holmes aangeval het in haar nuwe boek, Spelling It Like It Is.

Tori Spelling is verlede maand vir “stres” in die hospitaal opgeneem.

Die gewese 90210-ster het glo ’n laagtepunt bereik nadat mense haar aangeval het omdat sy Katie Holmes “plasties” genoem het in haar lewensverhaal, Spelling It Like It Is. Sy het ook gesê Katie kan nie sing nie.

Die vloedgolf kritiek teen Tori het veroorsaak dat sy in die hospitaal behandel is vir “angstigheid”.

’n Bron het aan RadarOnline.com gesê: “Tori is ’n paar dae opgeneem vir stres en angstigheid omdat sy slegte terugvoer gekry het oor stellings wat sy in die boek gemaak het. Sy het glad nie verwag dit sou soveel kritiek ontlok nie.

“Tori het nie gedink haar kommentaar oor ’n toevallige ontmoeting met Katie Holmes sou sulke opslae maak nie.

“Sy het net baie angstig geraak omdat sy haar boek moes verdedig in mediaonderhoude, en besluit sy hoort in die hospitaal.”

Tori, wat besig was om haar nuwe boek te bemark, het herstel en dit gaan glo goed met haar.

Nog ’n bron het aan RadarOnline.com gesê: “Sy het net nie goed gevoel nie en is hospitaal toe, maar alles was piekfyn.”

Tori (40), wat vier kinders het by haar man, Dean McDermott, beskryf ’n toevallige ontmoeting met Katie (34) in die stemafrigter Eric Vetro se kantoor.

Sy skryf: “Terwyl ek buite sy musiekkamer sit en wag het, het ek sy vorige afspraak saam met hom in die ander kantoor gehoor. Dit was een of ander aktrise wat aaklig vals gesing het . . . Dit het my beter laat voel. Ek het hom hoor groet en toe stap die aktrise uit. Dit was Katie Holmes.

“Ek het nie geweet of ons mekaar ’n drukkie moes gee of handskud nie. Maar sy het dit duidelik laat blyk: Moenie eers naby kom nie.”