Die neus verrig ’n belangrike funksie – dit help ons in- en uitasem. Soos ons lug deur die neus inasem, word dit gefiltreer, bevogtig en verwarm voor dit die longe bereik.

Maar wanneer die seisoene verander, kan die neus uitdroog. Ons longe – en gesondheid in die algemeen – word dan in gevaar gestel. Dit is dus belangrik dat ’n droë neus so gou moontlik behandel word.

’n Droë neus kom gewoonlik gedurende die winter voor. Soos die weer kouer raak, raak die lug koeler. Gewoonlik word daar ook in huise, kantore en winkelsentrums verwarmers gebruik, wat warm, droë lug uitpomp. Dit kan veroorsaak dat die voering van die neus droog, geïrriteerd en sensitief raak. ’n Droë neus kan ook tot neusbloeding lei.

Probeer dit:

  1. Nasale sproei of druppels: Dit bied vinnige verligting van ’n droë neus omdat dit die voering in die neus bevogtig hou. Weergawes vir jong kinders is ook beskikbaar.
  2. Gebruik snags ’n bevogtiger in die slaapkamer: Dit kan vog in die lug help byvoeg, wat jou makliker kan laat asemhaal.
  3. Draai die hitte af: Dra eerder ’n ekstra laag klere.
  4. Sit ’n bak water naby die verwarmer: Dit bevogtig ook die lug.
  5. Probeer om nie ’n droë neus te krap nie: Dit gaan die sensitiewe vel beskadig en die risiko vir infeksie verhoog.
  6. Probeer blootstelling aan irritasies vermy: Dit sluit in stof, sigaretrook, stuifmeel, troeteldiere en skoonmaakmiddels.

- Faiza Mallick