Die Wes-Kaapse polisie het ’n “ervare speurder” aangestel om verskeie bewerings van brandstigting te ondersoek.

Netwerk24 het Donderdag berig dat brandbestryders van die Overberg Woensdag uit die lug uit gesien het hoe kinders brande naby die Sir Lowryspas stig.

’n Stemboodskap word ook tans in die sosiale media versprei. In die boodskap waarsku ’n onbekende man boere in die Paarl-omgewing dat brandstigters rondloop en brande op plase begin.

“Ons het pas bevestiging gekry al hierdie brande op plase is gestig. En ons het nou bevestiging gekry van die ouens in die lug wat besig is om die brand uit die helikopters te bestry, dat hulle sien hoe die ouens die plase aan die brand steek.

Lees ook: Die Wes-Kaap brand en een in die Paarl ‘buite beheer’ – kyk dramatiese foto’s en video!

“Daar was ook berigte dat ouens met hul ANC-hemde en goeters die brande stig en dit is blykbaar in protes oor een of ander DA-ding wat iewers in die Wes-Kaap aan die gang is,” beweer die man in die stemboodskap.

Die Wes-Kaap gaan die laaste paar weke kwaai gebuk onder talle brande. ’n Seun (14) is vroeër dié week in hegtenis geneem in verband met ’n brand op Vlaeberg. Twee dae ná die Vlaebergbrand het Duiwelspiek ook onder verwoestende brande deurgeloop.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie neem kennis van die verskillende bewerings.

“Die bewerings is dat mense in gemerkte klere en bybehore gesien is waar hulle brande in die area begin.” Hy sê verder ’n speurder is aangestel om die saak te ondersoek en vas te stel wat aangaan.

“Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die uitslag openbaar gemaak word. In dieselfde asem wil die polisie mense met inligting aanmoedig om hul naaste polisiekantoor te kontak.” Volgens André sal alle inligting as vertroulik hanteer word.

Hy sê mense moet ook onthou dat brandstigting ’n baie ernstige oortreding is en volgens wet gestraf sal word.

Mense kan ook die Stop Misdaadnommer by 08600-10111 kontak as hulle meer inligting oor die brande het.