’n Groot plaaslike lugredery het ook aangekondig hulle staak vlugte na die stede wat die swaarste getref is deur die uitbreking wat meer as 670 mense geëis het.

Dr. Sheik Humarr Khan, wat vir sy werk in Sierra Leone as ’n nasionale held geprys is, is daar deur amptenare van die departement van gesondheid dood verklaar. Hy was in die hospitaal in kwarantyn geplaas.

Gesondheidswerkers is veral vatbaar om Ebola op te doen, wat deur liggaamsvloeistowwe soos speeksel, sweet, bloed en urine oorgedra word. Twee Amerikaanse gesondheidswerkers is tans in die naburige Liberië met Ebola gehospitaliseer.

Die Ebola-uitbreking is die grootste ooit; mense in Sierra Leone, Liberië, Guinee, en Nigerië is al daaraan dood. Die siekte het geen entstof en geen spesifieke behandeling, met ’n sterftesyfer van minstens 60 persent.

Binyah Kesselly, die voorsitter van Liberië se lugvaart-owerheidsraad, sê polisie is nou teenwoordig by die lughawe in Monrovië om passasiers klaring te gee.

“As jy dus ’n vlug het en nie die reëls nakom nie, gaan ons jou nie aan boord die vliegtuig toelaat nie,” het hy gesê.

Die lugredery ASKY het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle staak vlugte na Monrovië en Freetown in Sierra Leone. Vlugte gaan voort na die hoofstad van die derde land waarin mense dood is, Guinee, maar passasiers wat uit die land reis, “gaan ondersoek word vir tekens van die virus”.

Passasiers by die lugredery se sentrum in Lome, Togo, gaan ook deur mediese spanne ondersoek word, lui die verklaring.

“ASKY is vasbeslote om hul passasiers en personeel in hierdie verontrustende tyd veilig te hou,” lees die verklaring.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê die risiko vir reisigers om Ebola op te doen is laag, want dit vereis direkte kontak met liggaamsvloeistowwe soos speeksel, sweet, bloed en urine. Ebola kan nie soos griep oorgedra word deur toevallige kontak of dieselfde lug inasem nie.

Pasiënte is net aansteeklik sodra die siekte so gevorder het dat hulle simptome toon, sê die WGO. En gesondheidswerkers is die kwesbaarste omdat hulle in nouer kontak met die besmettes is.

Die vroeë simptome van ’n Ebola-infeksie kan koors, hoofpyn, spierpyn en keelseer insluit. Dit kan moeilik wees om tussen Ebola en die simptome van malaria, tifus of cholera te onderskei, sê kenners. Mense met Ebola begin eers later inwendig en uitwendig bloei, dikwels by die neus en ore.

- Clarence Roy-Macaulay en Krista Larson/AP/Sapa