Hoewel almal weet minder eet en meer oefening is die sleutel tot gewigsverlies, swig talle voor die verleiding van diëte wat kitsresultate beloof.

Ja, die gewig sal af bly as ’n mens ’n stadige en volgehoue beginsel najaag, maar jy het soms kitsresultate nodig, veral as dit vir jou gunsteling-ster gewerk het. Die Britse Dieetkundige Vereniging (BDA) verstaan die neiging en dit is die rede waarom hulle ’n lys van diëte van beroemdes publiseer wat vermy behoort te word.

Die geen suiker-dieet

Alle soorte suiker, plus ’n klompie koolhidrate, word uit jou dieet gesluit. Om dit duidelik te stel: te veel suiker is sleg vir jou gesondheid. Die liggaam het egter ’n bietjie suiker nodig om te funksioneer en dit is hierdie teenstelling wat die eintlike rede is waarom die eetplan die lys gehaal het. Voedsel soos vrugte bevat suiker en dit is nie ’n goeie idee om dit uit te skakel nie.

Die kopkool-en-kougomdieet

Hier eet ’n mens net groen blaargroente en kou kougom in ’n poging om gewig te verloor, soos wanneer sommige sterre dit gebruik om ’n paar kilogram vir ’n rol in ’n rolprent af te skud. Dit is hoogs beperkend en die BDA waarsku dit is ongebalanseerd en dat dit kan skade aanrig omdat ’n enkele voedselbron nie alles aan die liggaam kan verskaf wat dit nodig het nie. Balans werk die beste.

Die ‘bulletproof’-dieet

Harry Styles, die ster van One Direction, het beweer hy gaan hierdie plan gebruik om skraal te bly. Die ‘bulletproof’-drankie bestaan uit ’n dubbele espresso, met lepels vol botter en klapperolie daarby. Volgelinge drink een koppie hiervan per dag en dit bevat ongeveer 1,675 kilojoules per koppie. Die BDA het die dieet as “un-bull-ievable” uitgekryt en waarsku hoewel die drankie kilojoules bevat, het dit min voedingswaarde.

Die super-elikser (kruieaftreksel)

Die supermodel Elle Macpherson het gepraat van die aanvulling in poeiervorm, wat nogal duur is teen R2,078 vir een maand se voorraad. Dit verander liggaamsweefsel van suur tot alkalies. “Duur,” was die organisasie se kommentaar. “Die voordele wat die duur poeier na bewering kan verskaf, kan maklik uit vrugte, groente en ’n gebalanseerde dieet verkry word, sonder die verskriklike prysetiket.”

Trim Secrets-pil

Hierdie pil word tesame met ’n kilojoulebeheerde dieet van 6,276 kJ per dag, 1,5 liter water elke 24 uur, oefening en geen stres nie, geneem. Dit is veronderstel om hongerpyne uit te skakel en die metabolisme te verbeter, maar volgens die BDA sal enigeen wat dié hoeveelheid voedsel inkry, in elk geval gewig verloor.

“As mense mediese raad nodig het, gaan spreek hulle hul huisdokter en as mense tandpyn het, gaan spreek hulle hul tandarts, maar wat voeding, kos en dieet betref, sal hulle feitlik enigiets en enigiemand glo,” het Sian Porter, dieetkundige en woordvoerder vir die BDA, gesê.

“Die kern van die saak is: as dit te goed klink om waar te wees, is dit moontlik presies dit. As jy moet geld bestee aan ’n DVD of boek wat die geheime van gewigsverlies ontsluit, kan dit ’n goeie aanduiding wees dat die enigste ding wat jy gaan verloor, uit jou beursie sal kom.”

© Cover Media