Papafobie: 'n Vrees vir die pous

Miljoene mense stroom na hom toe in die hoop dat hy hulle sal seën; hy word immers as een van die welwillendste mense op aarde beskou. Dis nou behalwe dié wat aan papafobie – ’n abnormale, aanhoudende, patologiese vrees vir die pous of die pousdom – ly. Simptome kan insluit vinnige asemhaling, onreëlmatige hartklop, sweet, mislikheid en algehele gevoelens van vrees. Die vrees is ook nie altyd op die pous self gerig nie; dit kan ook vrees vir die Rooms-Katolieke kerk wees.

Aragibutirofobie: Die vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte sal vaskleef

As mense met dié fobie ’n grondboontjiebottertoebroodjie eet, sal hulle histeries raak as dit aan hul verhemelte vaskleef.

Trigofobie: 'n Vrees vir los hare

As daar ’n haar in jou sop dryf, is alles in orde, maar as jy dit oral sien, ly jy dalk aan trigofobie. Dit kom van die Griekse woord “thrix” (hare) en “phobia” (vrees), en is die afsku of vrees wat deur die aanskouing van los hare op klere of elders veroorsaak word.

Nomofobie: Die vrees om nie binne selfoonkontak te wees nie

Hoe voel jy as daar nie netwerkdekking vir jou selfoon is nie? Kan jy jou selfoon ’n dag lank afskakel? Of as daar dalk nie praattyd oor is op jou foon nie, as jou battery pap is of jy jou foon verloor? Soms is jy dalk op ’n plek sonder ontvangs. Om sonder ’n foon te wees, kan sommige mense tot paniek dryf. Die vrees is as nomofobie bekend.

Efebifobie: 'n Vrees vir tieners

Dit is eers bloot as “vrees en afsku vir tieners” bestempel, maar vandag word dit oor die wêreld heen herken as die “onakkurate, oordrewe en sensasionele karakterisering van jong mense”. Die sosioloog Ray Oldenburg het die generasiegaping die skuld gegee en die “groter wordende skeiding tussen jeugdiges en volwassenes in die Amerikaanse samelewing” en ook aan “volwassenes se vervreemding van en vrees vir die jeug”. Vrees vir die jeug en verwerping deur hulle word dikwels in ’n permissiewe houding teenoor hulle verdoesel.

Skopofobie: Die vrees dat daar na jou gekyk of jy aangestaar word

Lyers aan Skopofobie neig om groot openbare ruimtes soos inkopiesentrums en ander groot plekke waar mense bymekaarkom, te vermy, ten einde te verhoed dat na hulle gekyk of moontlik gestaar word. Eenvoudige take soos om ’n motor te bestuur, kan moeilik wees aangesien die lyer ’n akute gevoel van vrees en ongemak ondervind wanneer hulle dink ander mense staar na hulle – uit die motor langs hulle of uit die motor voor, of in hul truspieëltjie, agter hulle. Die woord kom van die Griekse woord “skopein”, wat “kyk of bestudeer” beteken en “phobos”, wat “diepe vrees of weersin” beteken.

Spektrofobie: 'n Vrees vir spieëls

Hierdie soort fobie behels ’n ongesonde vrees vir spieëls en die vrees om jou eie weerkaatsing te sien. Sándor Ferenczi, ’n psigoanalis, het dit aan twee hoofoorsake op een slag toegeskryf: die vrees vir selfkennis en die wegvlug van ekshibisionisme.

Phagofobie: 'n Vrees vir sluk

Iemand met phagofobie eet in minder ernstige gevalle net sagte en vloeibare kossoorte. Hul vrees word uitgedruk in verskeie klagtes rakende sluk sonder dat enige sigbare liggaamlike rede deur fisieke ondersoeke en laboratoriumontledings opgespoor kan word. Phagofobie kan lei tot (en verwar word met) ’n vrees vir eet, wat wanvoeding en gewigsverlies tot gevolg kan hê.

Emetofobie: 'n Vrees vir braking

Emetofobie is die irrasionele vrees vir braking of om in die teenwoordigheid te wees van mense wat braak en/of die braaksel self. In die ergste gevalle is mense wat aan hierdie vrees ly, geneig om uiteet, sosialisering en partytjies te vermy. Hulle kan ook feitlik niks eet nie; daarom word anoreksie dikwels by hulle gediagnoseer, maar nie bulimie nie, aangesien hierdie siekte oorgewig of ’n gesonde gewig betrek.

Triskaidekafobie: 'n Vrees vir die nommer 13

Dit is een van die algemeenste vrese, maar sinloos. Selfs Adolf Hitler het hieraan gely. Daar bestaan ’n spesifieke vrees vir Vrydag die 13de en dit word paraskavedekatriafobie genoem. Tetrafobie is die vrees vir die getal 4 en dit kom veral in China, Japan en Korea voor.

Bron: strangecosmos.com, thesaurus.com, medilexicon.com, mentalhelp.net