Nadat hy amper ses maande se skoolwerk verlede jaar gemis het, het Andrew Tucker, ’n oudleerder van Sacs in Kaapstad, dit steeds reggekry om die toppresteerder van 2015 te wees.

Die seldsame outo-immuunsiekte Guillain–Barré-sindroom is aan die begin van Januarie 2015 by hom gediagnoseer, wat dit vir hom ’n baie moeilike jaar gemaak het, sê hy.

“Dit het my vir die hele eerste kwartaal buite aksie gelaat en ook vir ’n deeltjie van die tweede kwartaal. Dis die kwartale wanneer meeste van die werk gedoen word, so ek het baie gehad om op te vang. Dit was dus ’n ongelooflike moeilike jaar, op fisieke en emosionele vlak.”

Andrew en 20 ander leerders is in Midrand, noord van Johannesburg, deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, vereer. Hy sê om ’n positiewe ingesteldheid te hê en te volhard het hom gehelp om die goeie uitslae in sy eindeksamen te behaal.

“Ek het baie van die opvangwerk op my eie gedoen. My pa het skool toe gegaan, een van my vriende se boeke gevat en letterlik elke bladsy afgedruk en ek het deur elke bladsy wat ek gemis het, gegaan.”

Hy’t lof gehad vir sy klasmaats en die ondersteuningstelsel by die skool en tuis wat hom deur die moeilike tyd gehelp het.

“Toe ek terugkeer in die tweede kwartaal, was ek nog baie swak, so ek kon net vir ’n uur of twee op ’n slag skoolgaan. Toe gaan ek in vir sekere lesse en probeer stadig maar seker opvang.”

Toe die eindeksamen aanbreek, was hy amper ten volle herstel. “Ek sou sê ek was so 99 persent op die herstelpad toe ek my eindeksamen geskryf het. Toe ek in Junie geskryf het, het ek nog gesukkel met moegheid en ook onder meer baie spiertrekkings gekry. Dit was nogal ’n uitdaging.”

Daar was tye wat hy getwyfel het of hy sy studies sou voltooi en hy’t reeds daaraan begin dink dat hy dalk in 2016 moet terugkeer om sy matriekjaar te voltooi.

“Ek is net baie dankbaar om hier te wees, dat ek in staat was om my matriek in 2015 af te handel. Dit was ’n ontmoedigende ervaring en ek dink dit het van my ’n sterker mense gemaak.”

Andrew gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Bron: News24