Top Gear wil hê Brittanje se prins Harry moet op die program verskyn.

Die avontuurlustige prins is die aanbieder Richard Hammond se eerste keuse om deel te neem aan die Star in a Reasonably Priced Car-uitdaging. Elke week word ’n bekende gevra om te kyk hoe vinnig hulle om ’n baan kan jaag.

Hammond het ook gesê dat hy graag Harry se ouma, koningin Elizabeth, agter die stuur wil sien, veral omdat sy verlede jaar aan die Olimpiese Spele se openingseremonie in Londen deelgeneem het.

“Ek sal graag een van die koninklikes op die program wil hê en ek is seker Harry sal graag wil deelneem. Of wat van die hoof van die familie? Kom ons kry die koningin!” het Hammond aan BBC Newsbeat gesê.

Die 43-jarige Hammond, wat saam met Jeremy Clarkson en James May die program aanbied, is stomgeslaan deur die kaliber bekendes wat die program al gelok het, insluitend Simon Cowell, Tom Cruise en Cameron Diaz.

“Toe ons net begin het, het ons gedink: Sal iemand op ons ou programmetjie wil verskyn?

“Nou is dit asof die hele Hollywood graag om daai baan wil jaag,” het Hammond gesê.