Pres. Zuma het geseëvier nadat ’n uitgebreide vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) sy herroeping afgekeur het.

“Beamptes het openlik uitgepraat oor ernstige verskille. Dit was ’n fout wat nie weer gemaak moet word nie,” het Gwede Woensdagoggend, ’n dag ná die nasionale werkkomitee se vergadering, by ’n mediakonferensie gesê.

Bronne wat Dinsdagaand die urelange vergadering bygewoon het, sê die drie is “oor die kole gehaal” omdat hulle uitgepraat het.

“Ons moet dit soos volwassenes hanteer en mekaar agter geslote deure pak. As jy my met ’n blou oog sien, moet ek sê ek het teen ’n paal vasgeloop eerder as om in die openbaar oor verskille te praat,” het Gwede aan joernaliste gesê.

Hy het gesê die 2007 resolusie dat premiers en burgemeesters eers ANC-leiers moet raadpleeg voor hulle die uitvoerende komitee verander, sit agter die “tekortkominge” in die bestuur van die kabinetskommeling.

Die partylede wat die vergadering bygewoon het, het ook aanvaar pres. Zuma se verbrokkelde verhouding met die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, was genoeg rede om hom af te dank.

Gwede sê dis ’n jammerte dat sommimge leiers ’n intelligensieverslag as rede vir Pravin se afdanking gebruik het.

“Die NWK het aanvaar dat die onherstelbare verbrokkeling van ’n verhouding tussen die president en kabinetlede voldoende verduideliking is en die kwessie van die intelligensieverslag kompliseer die saak.”

Provinsiale voorsitters en sekretarisse het die NWK-vergadering bygewoon wat glo deur Zuma-ondersteuners oorheers is.

Die ANC staar ongekende opstand teen ’n partyleier in die presidentskantoor in die gesig. Mense binne die regerende party, asook vooraanstaande staatmakers van SAKP en Cosatu – wat destyds pres. Zuma se presidentsveldtog gesteun het – wil hê pres. Zuma moet sy tassies pak.

Intussen beplan opposisiepartye, burgerlike samelewing, godsdienstige leiers en vakbonde protesoptogte teen pres. Zuma regoor die land.

Zuma-ondersteuners, soos die ANC-jeugliga en –vroueliga, beplan egter hul eie veldtogte – waaronder verjaarsdagvieringe volgende Woensdag vir sy verjaarsdag.

Nomvula Mokonyane, ’n lid van die nasionale uitvoerende komitee, het Dinsdag gesê pres. Zuma sal tot 2019 aan die stuur van sake bly.

Bron: News24