Vier akteurs in die gewilde TV-reeks Binneland, gaan in 2014 dié sepie verlaat.

Dawid Minnaar, Elma Postma, Neels van Jaarsveld en Odelle de Wet gaan almal in 2014 hul laaste verskyning in Binneland maak.

“Dit is inherent aan die aard van ’n reeks wat daagliks uitgesaai word: Karakters word ingeskryf, hulle vervul ’n dramatiese storie-funksie, en dat is dit tyd om te groet,” het Elsje Stark, wat Binneland vervaardig, in ’n persverklaring gesê. “Ons wens hulle net die beste toe vir die toekoms.”

“Dit was baie aangenaam om daar te kon werk en ek hoop dat my karakter eendag sal terugkeer. Hopelik is daar ’n paar toneelstukke, flieks en ander reekse op die horison. Ek trek weer einde Februarie terug Kaap toe,” vertel Neels van Jaarsveld.

Aanhangers van dié sepie sal tot Januarie aanstaande jaar moet wag om te sien waarom Franz Basson (Dawid Minnaar) ’n moeilike besluit rondom sy verhouding met Bea (Elma Postma) moet maak. Dan sal kykers nog tot in Mei 2014 moet wag om die sien wat die uiteinde van dié besluit is en hoe dit hul geliefde karakters op die kassie gaan raak.