Klaargekoude potlode

pre-chewed-pencils

As jy sukkel om te keer dat jou kinders pal die punt van hul penne en potlode kou, kan jy hulle dalk afskrik met potlode waaraan iemand anders reeds geproe het. “Pre-chewed pencils” is beskikbaar teen sowat R32 en het tandmerke aan die agterkant om kinders met kougewoontes af te weer.

Nageboorte-teddiebeer

placentateddy

Beslis nie vir mammas en kinders wat maklik gril nie! Die plasenta-teddiebeer word aanmekaargestik uit stukke van die ma se nageboorte wat eers uitgedroog en daarna geëmulgeer word. Die prys is nie bekend nie, maar ons vermoed ma’s wat belangstel, sal moet opdok om so ’n vreemde speelding te laat maak.

Tatoes vir kinders

tattoos-for-babies-thumb

Die meeste ma’s vrees dat hul kinders eendag toegetrek van die krioelende donkerblou lyne en sketsies gaan wees. Maar vir ma’s wat nie tatoes vrees nie, is daar “tattoos for babies”, wat hul kleinding met alles van ’n stootwaentjie tot ’n rooi roos of fopspeen kan versier. Die tatoeëermerke is gelukkig nie permanent nie, en word teen sowat R53 verkoop.

Sonogram-mansjetknope

sonogram-cufflinks-cropped-thumb-960x640-5857

Pa’s wat iets in die mou wil voer, kan teen ’n koel R670 foto’s van hul ongebore kleinding op mansjetknope laat verewig.

Die babamop

slide_290185_2299929_free

Is jy ’n besige ma wat sukkel om die balans te vind tussen huis skoonmaak en kinders oppas? Kombineer sommer die twee met die babamop! Jy trek eenvoudig vir jou baba (wat nog nie kan kruip nie) die eenstuk aan en laat hom toe om na hartelus op die grond rond te kriewel en gly. Die onderkant van die pakkie is oortrek met dieselfde vesels as ’n mop en behoort jou vloer blinkglad en skoon te laat. Teen R422 is dit wel aansienlik duurder as ’n gewone mop.

Gevorderde klanksisteem vir swanger vroue

Ritmo-Advanced-Pregnancy-Sound-System-2

Baie ma’s glo in die voordele van musiek vir hul ongebore baba. Dié wat bereid is om R1 300 op te dok, kan belê in die “Ritmo Advanced Pregnancy Sound System”, ’n ingewikkelde klanksisteem wat om die swanger vrou se maag vasgegespe word om musiek vir haar kleinding te speel.

Troetelklip

Product shot of Pet Rock, fad from mid-1

Is dit te veel moeite om jou goudvis kos te gee, jou kat se hare op te vee of met jou hond te gaan stap? Hoekom belê jy nie in ’n troetelklip nie? Dié absurde speelding word bemark as “die enigste troeteldier wat jy nooit mee hoef te gaan stap, te voer of op te pas nie, en wat boonop nooit vermis sal raak nie”. Die troetelklip kom selfs in ’n drasak sodat jy dit oral met jou kan saamneem. Jou troetelklip sal jou R42 uit die sak jaag. Of jy kan eenvoudig een in jou tuin gaan optel. . .

Duimsuig-skild

slide_290185_2301198_free

Party kinders kan eenvoudig nie hul vingers uit hul mond hou nie; daarom het ontwerpers met die “FingerGuard” vorendag gekom, ’n plastiekomhulsel wat om jou kind se gewrig en vingers vasgegespe word. Daar is boonop ook ’n “ThumbGuard” vir kleingoed wat nie duimsuig kan klop nie. Albei is beskikbaar teen R740.

Die outomatiese Twiet-sodra-hy-skop-masjien

kickbee_version2_3_640x428

Party mense is so verslaaf aan sosiale media, selfs ’n swangerskap kan hulle nie daarvan laat afsien nie. As jy sukkel om jou groeiende kleinding en liefde vir Twitter te balanseer, kan jy die “KickBee” aanskaf. Die belt wat verwagtende vroue om hul middel vasmaak, voel bewegings deur die fetus aan en stuur ’n twiet wat sê “Baby just kicked!” uit sodra dit beweging aanvoel.

Pa se beurt vir borsvoed?

grid-cell-8733-1394044427-8

As manlief ook wil voel hoe dit voel om te borsvoed, kan hy die “Nurse me Tender” aan sy bolyf vasgespe en die baba uit die kunsmatige borskas laat drink. Die ervaring gaan jou (of jou man) R530 uit die sak jaag.

-Mieke Vlok

Bronne: huffingtonpost.com, incrediblethings.com, parenting.com, babble.com, buzzfeed.com.