IN SY netjiese pienk hemp en grys onderbaadjie lyk hy pure sakeman.

Sy hande en naels is goed versorg en die grys leerskoene blink in die sonlig wanneer hy sy bene gemaklik oor mekaar kruis.

Maar wag, daar’s ook die skelpienk belt, en die blonde hare wat parmantig regop staan...

Nee, dié een is geen vaal plaasseun wat bankbestuurder geword het nie.

Gert-Johan Coetzee lyk 18 jaar oud, maar is darem al 22 en hy is ’n modeontwerper met tientalle toekennings agter sy

naam en ’n kliëntelys wat soos ’n wie’s wie van plaaslike glansmense klink: onder andere die gewese Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts, die TV-aanbieders Liezel van der Westhuizen en Bonang Matheba, en die sanger Louise Carver.

Suid-Afrika se mooiste mense gons oor dié sprankelende nuwe talent op die plaaslike toneel en ons land se mees modebewustes staan tou om in een van sy rokke gesien te word.

G’n wonder nie, want by hoeveel gesellighede al het sy skeppings die draer die titel as bes geklede vrou besorg.

Maar al klink dit na ’n feëverhaallewe, was dit nie altyd so maklik nie. Gert-Johan het al ’n ver pad in die modebedryf gestap en dit het lang ure en bloedsweet gekos om te kom tot waar hy vandag is.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 Oktober 2010