Jaag bose geeste jou? Of is die duiwel op jou spoor? Toema, reinig jouself bloot met ’n blikkie Doom!

Dit is ten minste die oplossing as jou naam pastoor Lethebo Rabalago van Limpopo is. Volgens dié evangelis kan Doom nie net goggas en insekte hokslaan nie, dit kan ook ’n duiwel of twee ses voet onder die grond inspuit! Die tonge het behoorlik in die sosiale media geklap nadat foto’s van lidmate in Lethobo se gemeente by ’n samekoms by die Mount Zion General Assembly in Mookgophong aan die lig gekom het waar hulle met Doom bespuit word.
Lethebo het glo aan sy lede gesê Doom is die oplossing vir wanneer bose geeste jou teister. Dit kan sommer ook gebruik word om siektes soos kanker en MIV te genees.

“God kan enigiets gebruik. God kan modder gebruik. God kan spoeg gebruik. Hy kan selfs giftige goed gebruik om mense mee te bekeer,” het die pastoor aan die radiostasie Talk 702 gesê. Hy is oortuig die Doom affekteer nie sy lidmate nie en is heeltemal onskadelik. Maar nie almal stem saam nie. “Hou op om ons produk in mense se gesigte te spuit,” maan die vervaardigers van die insekdoder die pastoor. “Ons vind hierdie praktyk kommerwekkend en wil dit duidelik maak dat dit baie gevaarlik is om Doom of enige spuitgoed in iemand se gesig te spuit,” het hulle in ’n verklaring gesê.

In van die foto’s kan gesien word hoe van die lidmate verwoed hul oë toeknyp terwyl die pastoor die blikkie Doom op hulle leegspuit. Intussen het die polisie in Limpopo gesê hulle stel ondersoek in nadat die foto’s in die sosiale media verskyn het.

So het Twitter op die Doom-profeet gereageer: