Tom Hanks is opgeroep vir juriediens.

Die 57-jarige akteur is opgeroep om sy oordeel uit te spreek in ’n saak oor gesinsgeweld. Hy het besluit hy gaan liewer sy plig doen as sy bekendheid gebruik as ’n verskoning.

Hy het gesê: “Hier (in Amerika) sit jy rond en een dag kry jy ’n dagvaarding in die pos dat jy jou vir juriediens moet aanmeld.

“Jy maak dan ’n paar telefoonoproepe, en ’n paar dinge word aan jou verduidelik, en jy kan dan vra dat hulle jou verskoon . . . maar jy mag nie jok nie en jy moet baie spesifieke redes hê waarom jy verskoon wil word. En as jy dit nie het nie, moet jy opdaag.

“En dit het net so gebeur dat, behalwe dat ek baie belangrike onderhoude met die wêreldmedia moes kanselleer, daar geen rede was waarom ek my nie vir juriediens kon aanmeld nie. Ek het gegaan.”

Hoewel hy nie noodwendig dink hy was ’n afleiding tydens die saak nie, het die verdediging ’n wanverhoor aangevra nadat iemand in die aanklaer se span die ster tydens ’n etensuur genader het.

Die ster van Forrest Gump het aan die Mail on Sunday se tydskrif, Event, gesê: “Iemand was besig om middagete te eet, en het vir my gesê: ‘Hallo, dankie dat jy gekom het, die meeste mense probeer uit juriediens kom.’

“En ek het gesê: Ek weet, maar ek doen net my burgerlike plig.

“Maar niemand is veronderstel om met die jurie te praat nie, glo ek. Dit was ’n baie informele, sewe sekonde lange gesprek oor middagete.

“Maar reg het geskied, of ’n fout is in die hele regstelsel gevind, oor waar ek verkies het om daardie dag my middagete te eet. Maar jy weet, ek het my plig gedoen.”

Die vrou wat met hom gepraat het, is met R1 500 beboet vir geringe rusverstoring.