Janet Marylyn Frager is Dinsdag oorlede. Sy was 84. Die ster van Cast Away het Instagram gebruik om sy ma, ’n gewese hospitaalwerker, op ’n liefdevolle manier te vereer. Die akteur, wat verlede Saterdag die mylpaal in sy ouderdom gevier het, het ’n swart-wit foto van die jong Janet geplaas met die byskrif: “Hierdie skoonheid? My ma. Sy het ’n verskil gemaak in baie lewens.

A photo posted by Tom Hanks (@tomhanks) on

“Ons groet haar vandag. ’n Veilige oorgang, ma!” Tom se vrou, die aktrise en sangeres Rita Wilson, het ook sosiale media gebruik om haar oorlede skoonma te gedenk deur ’n foto van Janet en haar beroemde seun te plaas.

A photo posted by Rita Wilson (@ritawilson) on

“Hierdie wonderlike dame het die lewe geskenk aan my man en nog drie kinders. Dankie dat u my beminde in die wêreld gebring het,” het Rita geskryf. “Sy het nou vrede.”

Die oorsaak van haar dood is nog nie aangekondig nie.

Janet was met Amos Mefford Hanks getroud en die paartjie, wat in Kalifornië gewoon het, het vier kinders gehad: Tom, Sandra, Larry en die akteur en rolprentvervaardiger Jim. Hulle is geskei toe Jim vyf was en toe is die gesin uitmekaar omdat Jim by sy ma gewoon het, terwyl die ouer sibbes by hul pa gewoon het.

Tom het in Mei openhartig oor sy jeug gepraat tydens ’n verskyning op die Desert Island Discs-program van BBC Radio 4 en daar het hy die eensaamheid van sy kinderjare beskryf en ook sy musiekkeuses verduidelik.

Gevra hoekom hy Richard Strauss se Also Sprach Zarathustra, die temalied vir 2001: A Space Odyssey, gekies het, het hy vertel die musiek het ’n indruk gemaak op hom as tiener, ná ’n nomadiese kindertyd saam met sy pa, Amos, ’n kok. Hulle het in die bestek van 10 jaar in vyf huise gewoon.

“Dit was die ‘sjoe’-oomblik in my lewe – die oorgang van ’n kind wat probeer uitmaak wat interessant is in hierdie lewe tot ’n jong man wat gesmag het om ’n kunstenaar te wees,” het hy aan Kirsty Young vertel.

“Ek het my begin afvra … hoe kry ek die woordeboek vir dit wat in my kop ronddool?

“Ek het kort daarna begin om die American Conservatory Theater alleen te besoek om opvoerings te sien wat ek nie eens geweet het bestaan nie.”

Toe hy uitgevra is oor die gedagtes “wat in sy kop ronddool”, het Tom hoorbaar emosioneel geraak en die trane afgevee:

“Ek het te veel gedagtes aan hierdie lys bestee,” het hy voortgegaan.

“Dit was die woordeskat van eensaamheid. Dis wat dit was.”

© Cover Media