Die ster van die Mission Impossible-flieks is al langer as drie dekades in die rolprentbedryf en met sy hegte pel David Beckham, wat graag wil naam maak in Hollywood, is Tom die een wat vir hom raad oor toneelspel gee. “David kry al ’n hele paar jaar lank in die geheim wenke by Tom,” vertel ’n bron aan die Britse koerant Daily Star.

'Tom beskou David as ’n lojale, betroubare pel.'

“Tom beskou David as ’n lojale, betroubare pel en is bereid om hom te help om sy drome te bewaarheid. Tom voel David het ’n wonderlike voorkoms vir die silwerdoek en charisma wat sal werk in flieks.”

Intussen is bevestig die gewese sokkerster gaan ’n praatrol in Guy Ritchie se fliek Knights of the Roundtable hê, wat volgende jaar uitgereik word. Maar die pa van vier was glo aanvanklik maar teensinnig om die skuif van sport na flieks te doen.

“David het eers vasgeskop, maar mettertyd gemakliker geraak met toneelspeel,” vertel die bron. “Tom het vir hom raad gegee oor hoe om dialoog te leer en hoe ’n mens met ander akteurs praat. Dis babatreë, maar belangrik vir Becks om ervaring op te doen.”

David droom blykbaar daarvan om eendag die rol van James Bond te vertolk en Tom (53) doen sy bes om sy pel dié doelwit te help bereik.

“Tom het net die regte raad om vir Becks te gee oor wat dit verg om ’n geheime agent te speel met dié dat hy die Mission Impossible-flieks gemaak het. En sy bande met grootkoppe in die rolprentbedryf versterk ook Becks se kans.”

Met David (40) se oorgang na flieks volg hy die voetspoor van sportsterre soos Vinnie Jones en Eric Cantona, maar hy is deeglik bewus daarvan dat sy sukses op die sokkerveld nie beteken hy is verseker van sukses op die silwerdoek nie.

“Ek besef dat baie sportmense en ander bekendes toneelspeel beproef en misluk het,” het hy al vantevore aan Brittanje se The Times gesê. “Ek weet dis ’n tawwe beroep waar jy baie vaardighede en dissipline moet hê en ek wil nie myself te gou daarin begewe nie.”

© Cover Media