Die onlangse aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) dat tolpaaie se tariewe weer gaan verhoog, beteken dat motoriste - veral Gautengers -  voortaan meer gaan moet opdok om werk toe en terug te ry.

tolhekwikimediaorg

Die verhoogde tariewe, wat sedert 3 Maart in werking is, geld vir tolhekke reg oor die land, asook die e-tolhekke in en om Johannesburg en Pretoria.

“Dit is nog ’n finansiële slag vir Suid-Afrikaners en gaan net meer druk op verbruikers plaas,” het die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika in ’n verklaring gesê. Die verhoogde tariewe volg ook op die verhoging in die brandstofheffing en die padongelukkefondsheffing wat die minister van finansies, Pravin Gordhan, onlangs aangekondig het.

Dié heffings, wat in April in werking tree, verhoog onderskeidelik met 30c en 9c per liter brandstof.

Volgens die AA is nie alle Sanral-gebruikers van die veranderinge in kennis gestel nie. Net sommige mense is per e-pos ingelig.

“Die hoeveelhede waarmee die tariewe styg, is (ook) nie ingesluit by die kommunikasie nie en daar is ook geen regverdiging vir die verhogings gegee nie,” het die verklaring verder gelui.

Die verhoogde e-toltarief wissel nou tussen 67c as jy onder die Ilowe-tolhek deurry en R4,66 as jy onder die Swael- of Letata-tolhek deurry met ’n motor.

In die dokument wat deur Sanral beskikbaar gestel het, sê die agentskap dat die verhoging nodig is om paaie te onderhou.

“Dit (die paaie) verinneweer met die verloop van tyd en as gevolg van aanhoudende verkeersvloei, die weer en oorlaaide vragmotors.”

Volgens die dokument is die onderhoud van paaie ’n voortdurende proses en nie iets wat een keer afgehandel word nie.

Die ekstra geld word na bewering aangewend om onder meer padmerkers te onderhou, gras langs die paaie te sny, om oorblyfsels ná motorongelukke te verwyder, slaggate reg te maak en die paaie daagliks skoon te hou.

  • Die Hugenote-tolhek, naby die Paarl in die Wes-Kaap, sal motorbestuurders nou R35.50 uit die sak jaag.
  • Die Grasmere-tolhek naby Vereeniging sal motobestuurder nou R18 kos.
  • Die Carousel-tolhek op pad Polokwane toe, kos nou R50 vir motors.