Dit het kwalik ’n uur geneem voor sy vonnis aan Howard Oliver bekendgemaak is: twee lewenslange vonnisse en 15 jaar vir roof. Hy is op 31 Mei vanjaar skuldig bevind op aanklagte dat hy die 16-jarige tiener op 7 Maart 2016 in die Tokaiwoud beroof, verkrag en vermoor het.

Oliver het deurentyd volgehou hy het net die tiener beroof en vermoor, maar nie verkrag nie.

Op 1 Junie is twee briewe in die hof voorgelees waarin Oliver (29) die hof om genade smeek. Die briewe is glo reeds in Mei verlede jaar geskryf, maar Oliver het dit ná raad van medegevangenes in Pollsmoor onttrek.

Regter Kate Savage het hom gevra hoekom hy nie sy misdade in die briewe erken het as hy werklik berou gehad het nie.

Franziska se liggaam was nog warm toe dit om 17:20 op daardie noodlottige dag gevind is. Haar gesig was met ’n stuk hout bedek.