Toitnette, links, saam met haar spanmaat, Magda. In waarskynlik die emosiebelaaiste episode van Kokkedoor, waartydens die top-drie spanne tydelik met familielede herenig is, het die spysenier Toitnette du Toit (33) en haar spanmaat, Magda Johnstone, in die pylvak van die kookkompetisie vasgeval.

Op ’n plaas tussen Montagu en Barrydale in die Wes-Kaap, vertel Toitnette Huisgenoot hoe dit voel om so na aan die einde met leë hande huis toe te gaan, wat die top-twee spanne se sterk en swak punte is en waar jy haar supergewilde melktert- en soetsuur-lewersousresep kan kry.

So naby en tog so ver! Hoe voel jy oor die einde van jou Kokkedoor-reis?

Dit was ’n ongelooflike reis. My eerste emosie is dat ek Magda teleurgestel het, want ’n mens wil meeding en as die oorwinnaar uit die stryd tree. Ek voel ook ek het my familie en vriende teleurgestel, maar ek weet hulle is trots. Dis soos jou kind wat die tweede of derde plek in ’n wedloop behaal: Jy is steeds trots, al het jou kind nie gewen nie.

Dit het nie gelyk of jul kos ’n flop was nie. Was die top-drie spanne maar net almal ongelooflik sterk en iemand moes huis toe gaan?

Ja, dis daai deel van die kompetisie waar die standaard net ongelooflik hoog was. Al die spanne het ’n ewe goeie kans gestaan om deur te gaan na die finaal. Maar op daai gegewe dag was dit ons beurt om ons tasse te pak.

Het julle ’n voorgevoel gehad julle gaan huis toe?

Ons het aanvanklik gesê ons het dit nie verwag nie, maar ná die tyd het ons eintlik erken ons het geweet. Die oggend toe ek opstaan, het ek gedink ons gaan huis toe. By die lang tafel het ons geweet die einde is op ons.

Was julle so ekstra emosioneel omdat dit so naby aan die einde was, of . . . ?

Ja, maar die hele dag was eintlik emosiebelaai omdat ons familie daar was. My ma, Riana Ferreira, het my vol emosie gehad. Maar toe ons eers uit is, het ons teruggekyk en besef hoe bevoorreg ons was om al die nuwe mense te ontmoet en hoe spesiaal onthoukos regtig is. Ons is ongelooflik dankbaar dat ons deel van die Kokkedoor-reis was, maar ook teleurgesteld, want dit was so naby aan die finaal.

Daar is nog net twee spanne oor – Tiaan Langenegger saam met Mynhardt Joubert en Theresa de Vries saam met Ida Klopper. Wat is albei spanne se sterk en swak punte?

Tiaan en Mynhardt het ’n ongelooflik rustige benadering tot kook en is regtig lief vir en kreatief met onthoukos en ons kultuur. Hulle verstaan hoe om dit te vernuwe en dit vir ’n nuwe generasie aanloklik te maak. Maar dit kan hulle kelder: Hulle is partykeer oorambisieus en sit te veel elemente op ’n bord. Met die min tyd wat ons kry, plaas hulle onnodig baie druk op hulself.  As jy na ’n perderesies gaan, is daar mos altyd daai onbekende perde waarop niemand geld wed nie, maar net teen die einde kom hulle verby en verras die skare – dis Theresa en Ida se troefkaart en hul wenresep. Theresa het ’n ongelooflike kennis van kos. Ida is ook ’n ongelooflike kok wat stil lyk, maar moenie verras wees as hulle ’n haas uit ’n hoed trek nie – want hulle kan! Hulle het wel nie baie selfvertroue nie; hulle sien hulself as “underdogs”, wat ek voel hulle nie is nie. Ek dink wel hulle doen nie genoeg om hul kookkuns te vernuwe nie. Enigeen van die spanne kan wen.

Buiten die wen, voel jy jy het in die program bereik wat jy wou?

Ja, definitief. Ek het nooit gedink ek gaan so ver kom nie. Kokkedoor het my my lewe, kos en ons erfenis heeltemal laat herleef. Ek dink anders daaroor. As ek gewen het, sou ek nie meer gekry het uit die reeks as wat ek nou het nie; ’n wen sou nie ’n verskil gemaak het nie.

Wat is in jou oë jou beste oomblik van die reeks?

Daar is eintlik drie: Toe ons wors gemaak het, het dit my eintlik baie na aan die hart gelê. My oupa het op die plaas wors gemaak en uitgehang. Dit het soveel herinneringe uit my grootwordjare teruggebring.

Dan: Toe ons met die skilferkors gewerk het. Ek het my oumagrootjie se resep gemaak en my ouma het my geleer hoe om dit reg te doen. Ek is baie trots daarop dat ek dit reg kon maak, en dit op Prins Albert op ’n dag toe dit 45 grade daar was.

En laastens: Toe ons uitgestem is. Dit wat ons voorgesit het, sou ek groot geld voor betaal het. Ek het net so gelukkig gevoel met dit wat ons gedoen het. Dit was regtig ’n voorreg om op so ’n hoë noot af te sluit.

Wat het jou ouma gesê oor die goeie skilferkors?

Jong, nie veel nie. Sy is maar trots. Maar sy het ’n paar sterk doppies gedrink toe ek amper die melktert van die tafel afgestamp het (lag).

Is jy spyt oor iets? Wat sou jy oordoen as jy kon?

Ek sou Japie se gunsteling wou gaar bak; dit spook by my! (Lag.) Dit was omtrent vernederend.

Enige flaters wat nooit uitgesaai is nie, maar wat jy met ons kan deel?

Ek en Magda het gereeld ietsie gebrand en as die rook so begin trek, het ons altyd voor die kameras by ons kom sommer die bak en al onder die tafel ingegooi en vir die kameramanne gesê daar brand iets in een van die ander Kokkedore se kombuise. Dit was vet pret.

Gepraat van foute: Wat is die grootste fout wat amateurkokke maak?

Hulle waag te min; hulle moet meer nuwe goed probeer.

Het jy raad hoe om dit te doen?

Gebruik nuwe produkte. Die beste leerskool is maar om te leer uit al jou foute. Maak of jy mal is en probeer alles. Jy eet altyd die lekkerste aan die goed wat die slegste lyk, so moenie bang wees nie. Waag en wees waaghalsig.

Tussen jou en Magda is jy die opgeleide sjef. Wat is die beste raad wat jy tydens jul spanwerk by haar gekry en geleer het?

Eerstens, weer die liefde vir ons kultuur, want sy is baie passievol oor ons albei se grootwordjare op ’n plaas, maar ook weer die liefde vir kos maak. Sy het ook ’n ongelooflike benadering met kruie en speserye; ek het ook baie daarvan geleer.

Daar is ’n Kokkedoor-resepteboek op pad. Watter van jou resepte gaan daarin wees?

Sover ek weet, my melktertresep en die soetsuur-lewersous wat ek en Magda gemaak het. So almal wat my daarvoor vra, kan dit daar kry!

Wat lê nou vir jou voor?

Binnekort maak ek ’n boerekos-restaurant oop by die Barrydale Karoo Hotel. Dan wil ek ook soveel moontlik by welwillendheidsprojekte betrokke raak sodat ek kan teruggee.

- Christiaan Boonzaier

Besoek ook:

- Foto's van episode 12

Koop die jongste mode en bykomstighede in ons aanlyn-winkel. Dis veilig en maklik.