Die NSRI het Maandag in ’n verklaring gesê die eerste voorval het omstreeks 16:38 by die Keurboomsriviermond naby Plettenbergbaai afgespeel.

Reddingswerkers is in kennis gestel van ’n verdrinking en toe hulle op die toneel aankom, het hulle gevind dat ’n omstander, vermoedelik ’n Duitse toeris, ’n sesjarige meisie uit die water getrek het.

“Die meisie was in ’n kritieke toestand en ons het haar met die hulp van paramedici vir nie-dodelike verdrinkingsimptome behandel,” sê Marc Rodgers, stasiebevelvoerder van die NSRI in Plettenbergbaai.

“Die dogter sowel as haar ma is per ambulans na die hospitaal geneem vir verdere behandeling.”

Die dogtertjie is in ’n ernstige maar stabiele toestand.

Marc sê die NSRI was nie in staat om die toeris te identifiseer nie.

Omstanders geloof

In ’n tweede voorval het ’n Britse omstander, Rupert Baird, ’n mede-Brit, Robin Woodhead, by Robbergstrand gered deur hom uit die water te trek.

Marc sê Robin, van Londen, is in sy vyftigs en is deur die seestrome meegesleur.

Nog ’n omstander, dr. Charles Niehaus, het die Bitou-munisipaliteit se menseredders en medici van die NSRI bygestaan.

Marc sê Robin is gestabiliseer en op ’n draagbaar geplaas voordat hy met ’n 4x4-reddingsvoertuig van die NSRI vanaf die strand vervoer. Hy is daarna per ambulans hospitaal toe geneem waar hy oornag vir waarneming gehou is. Hy is in ’n ernstige maar stabiele toestand.

“Die NSRI loof alle omstanders en nooddienste wat betrokke was by die voorvalle in Plettenbergbaai,” het Marc gesê.

Bron: News24