Die vrou het Maandagaand langs die baai in Melbourne gestap toe haar Facebook-nuusvoer haar aandag aftrek en sy van die pier af in die koue water geval het, het polisie van Victoria gesê.

’n Ooggetuie het hulp ontbied en die polisie het tot die vrou se redding gekom. Hulle het haar haar arms wild sien rondswaai sowat 20 m van die pier af. “Sy het op haar rug gedryf en het later vir ons gesê sy kan nie swem nie,” het sr. konst. Dean Kelly aan die Australiese Uitsaaikorporasie vertel. “Sy het nog haar selfoon in haar hand gehad en het verskoning gevra.”

Die vrou is na ’n hospitaal gebring vir behandeling. Die polisie het gesê sy is ’n buitelander, maar wou nie sê van watter land nie. “Wat Facebook of sosiale media oor die algemeen betref, moet jy bedag wees as jy enigsins naby die water is, veral as jy nie kan swem nie,” het Dean gesê. –  Sapa