Sy was besig om foto’s te neem toe die leeuwyfie haar aan die nek beetgekry het en sy is op die toneel dood.

Volgens Netwerk24 het haar persoonlike toergids, wat die leeu van haar probeer afkry het ook ernstige beserings aan sy arms opgedoen. Dié toergids is glo nie aan die Leeupark verbonde nie.

’n Winkelassistent het aan News24 gesê verskeie mense het die twee gewaarsku om hul ruite toe te maak. Werkers van die park was volgens haar binne sekondes op die toneel. Hulle het die leeus verjaag en noodhulp op die vrou probeer toepas totdat paramedici opgedaag het. In Maart is die Australiese toeris Brendan Smith lelik beseer toe ’n leeu hom deur sy oop motorruit aan die bobeen beetgekry het. Hy het ook in sy eie motor gery. Albei voorruite van die vrou se motor was glo wa­wyd oop - ongeag meer as 40 waarskuwingstekens, met prentjies.

Die voorval het in ’n kamp waar ’n trop van tien leeus aangehou word gebeur. Netwerk24 berig dat ’n wyfie sowat ’n meter van die motor kom staan terwyl die vrou foto’s geneem het en skielik gespring.

Die vrou het ’n enorme hoeveelheid bloed verloor, maar nog gelewe toe nooddienswerkers op die toneel aangekom het, het ’n werknemer van die Leeupark gesê.

Sy is toe binne minute dood.

Die Leeupark, wat naby die Lanseria-lughawe is, oorweeg dit nou om sulke ritte wat mense op hul eie onderneem, heeltemal te staak.

Die Leeupark verhuis binnekort na ’n perseel naby die Hartbeespoortdam.

'n Woordvoerder van die park het bevestig dat die leeuwyfie nie van kant gemaak sal word nie en sal moontlik na ’n nabygeleë park oorgeplaas word waartoe die publiek nie toegang het nie.

Bronne: Netwerk24, News24, Times Live