“Die leeuwyfie het die helfte van die passasier se skouer in haar bek gehad. Dit was te laat vir enigiemand om haar te red,” het Ben Govender, 'n ingenieur, aan Rapport, asook aan twee Britse nuusblaaie, The Daily Mail en The Mirror, gesê.

“Haar gesig was uitmekaargeskeur, die regterkant van haar bors was weg,” het Ben aan The Mirror gesê.

Die 38-jarige Ben het agter die voertuig gery wat deur die toergids, Pierre Potgieter, bestuur is en waarin Katherine 'n passasier was.

Ben het aan Rapport gesê dat Pierre sy venster eerste oopgemaak het waarna Katherine hare oopgemaak het.

Hy het gesê dat dit aanvanklik nie gelyk het asof dit die leeus gepla het nie. Toe loop die leeuwyfie egter na die motor toe en gaan staan op haar agterpote. Ben het 'n foto van hierdie oomblik geneem. Hy het gesê die leeuwyfie het minder as 15 sekondes later aangeval: “Niemand kon dink wat daarna sou gebeur nie.” Volgens Ben het dit gelyk asof Potgieter nie gou genoeg kon wegry of die venster gou genoeg kon toemaak nie.

'Dit was vreesaanjaend.'

“Dit was vreesaanjaend. Ná die eerste bytslag het die leeuwyfie van die motor weggespring met bloed aan haar bek en aan haar poot. ”

Volgens hom het die leeuwyfie ‘n tweede keer aangeval.

'n Verklaring wat deur Pierre se toermaatskappy, Kalabash Tours, uitgereik is, lui dat hy druk op haar wonde toegepas het om te probeer om die bloed te stop. Katherine is egter kort nadat die ambulans op die toneel aangekom het, oorlede.

Bron: News24