Street View Oceans is ’n uitbreiding van Google van Street View, wat panoramiese beelde van strate wêreldwyd bevat. Nou is dieselfde omvattende “padkaart” beskikbaar vir ses van die wêreld se gewildste duikbestemmings, onder meer die Groot Koraalrif in Australië, die Apo-eilande in die Filippyne en Hanaumabaai in Hawaii.

Die Catlin Seaview-opname, ’n projek wat poog om die toestand van koraalriwwe die wêreld deur te bepaal, het die beelde vasgevang. Die projek het reeds verlede jaar begin, met die eerste opname wat op 32 riwwe op die Groot Koraalrif gedoen is.

Google hoop Street View Oceans sal bewustheid kweek oor die uitwerking wat besoedeling, klimaatsverandering en oorbevissing op koraalriwwe het.

Om jou eie onderwatertoer met Street View Oceans mee te maak, besoek: maps.google.com/ocean.

Deur Shané Barnard