Motorkapings in Suid-Afrika het die afgelope jaar of wat onrusbarend toegeneem, luidens onlangse berigte en statistiese verslae. Volgens syfers van byvoorbeeld die opsporingsdiens Cartrack het kapings in die 10 maande tot Desember met meer as 30 persent gestyg; daarom doen die Automobiel Assosiasie (AA) ook nou opnuut ’n beroep op motoriste om deurgaans waaksaam te wees en verantwoordelikheid te aanvaar vir hul en hul passasiers se veiligheid.

Dis raadsaam om uit te vind waar die brandpunte vir kapings en roof uit motors (smash and grab) in jou stad en provinsie is, sê die AA. Organisasies soos  Arrive Alive en Ctrack verskaf sulke inligting.

Vermy sulke bekende hoërisiko-gebiede sover moontlik en veral snags, maan die AA. Moet jouself ook nie ’n aanlokliker teiken maak deur waardevolle items oop en bloot in jou motor te laat lê nie.

Hulle benadruk al is sulke rooftogte uiters traumaties, is dit van kritieke belang om in so ’n situasie so kalm moontlik te bly, des te meer as jy jong passasiers het.

As mense ’n vuurwapen op jou rig, is dit die beste om te doen wat hulle sê. Verduidelik byvoorbeeld ook aan die misdadigers dat jy kinders by jou het en probeer dan sorg dat julle so vinnig moontlik uit die motor kom. ’n Motor kan vervang word, “maar nie jou of jou kind se lewe nie”. Die AA gee ook dié raad:

• Konsentreer deurgaans op die pad – moenie dat goed soos elektroniese toestelle jou aandag van jou omgewing af trek nie;

• Let op na gevaartekens rondom jou wanneer jy stilhou, en maak waar moontlik seker daar is genoeg ruimte tussen jou en die motor voor jou sodat jy kan uitswaai en wegry indien nodig;

• Sit eerder waardevolle items in jou kattebak as om hulle duidelik sigbaar in jou motor te laat lê;

• Beplan jou roete en vermy gebiede waarmee jy nie vertroud is nie. Gebruik waar moontlik ’n GPS-toestel of bekyk vooraf ’n kaart om seker te maak jy weet presies hoe om by jou bestemming uit te kom;

• In geval van ’n kaping: Maak deurentyd seker die kapers kan jou hande sien en volg hul bevele. Verduidelik ook deurgaans wat jy/julle gaan doen, byvoorbeeld wanneer julle veiligheidsgordels gaan losmaak of deure oopsluit en -maak;

• Moet bloot nie met kapers stry nie; doen wat hulle sê;

• Hou eerder altyd jou motor se deure gesluit;

• Probeer om nie alleen te bestuur nie, veral nie snags nie;

• Wees op die uitkyk vir verdagte voertuie of mense wanneer jy tuiskom;

• Ry eerder dadelik na jou naaste polisiekantoor as jy vermoed jy word agtervolg;

• Meld ook enige voorval so gou moontlik by die polisie aan;

• As jy jou motor behoorlik in stand hou en seker maak jy het meer as genoeg brandstof vir jou beplande reis, is die risiko dat jy in ’n gevaarlike situasie gestrand gaan raak uiteraard veel kleiner.