DIE kannetjie op die sitkamerbank word byna verdwerg deur sy kitaar, maar hy hóú die noot, sy stem is suiwer en soet en hy kyk na die kamera met die selfversekerdheid van ’n ster terwyl iemand ’n tuisvideo van hom skiet.

In 2009 is daardie video van ’n onbekende 10-jarige sangertjie van wie weet waar op YouTube gelaai, en sedertdien het meer as 220 000 mense al daarna gekyk. En almal het gewonder: Wie is die kind wat so kan sing?

Onder dié wat bitter graag wou weet, was die Amerikaanse plateagente wat ook Beyoncé se loopbaan bestuur. Hulle het tot by Huisgenoot navraag gedoen – weet ons dan nie wie dié kannetjie is nie? Die storie het geloop dat hy êrens in Suid-Afrika bly . . .

Maande lank het die soektog in ’n doodloopstraat beland.