Die oud-Springbok en WP-senter Tinus Linee (45) het vanoggend sy stryd met motorneuronsiekte verloor.

Die siekte – waaraan die oud-Springbok Joost van der Westhuizen ook ly – is in April verlede jaar by Tinus gediagnoseer en hy het tot onlangs nog moedig geveg.

Nadat ’n voedingsbuis in Januarie in sy maag gesit is, het hy in Maart vanjaar ’n trageotomie gehad waar ’n lugpyp in sy nek gesit is sodat hy met behulp van ’n ventilator kon asemhaal.

“Dit is vir ons verskriklik moeilik en dit is vir my nog half onwerklik dat dié fase van sy siekte so vinnig gekom het. ’n Mens probeer seker maar vir jouself sê die fases gaan langer vat en gaan nie so vinnig op mekaar volg nie; ek het dit nog glad nie verwag nie,” het Diana (45), sy vrou, versorger en steunpilaar, destyds gesê.

Volgens ’n vriend van die paartjie het Tinus in sy slaap gesterf nadat hy vermoedelik asemhalingsprobleme gehad het; sy tragea is verlede week vervang nadat hy gesukkel het om asem te haal.

- Almari Wessels