Baie Suid-Afrikaners gebruik aanlynafspraak-apps soos Tinder en OK Cupid en hoop hulle kan ware liefde vind binne ’n paar klikke. Maar nou waarsku kenners dat misdade wat met dié apps verband hou, die afgelope twee jaar met 700 toegeneem het.

[caption id="attachment_114929" align="alignnone" width="600"]Foto: blog.gotinder.com Foto: blog.gotinder.com[/caption]

Syfers wat die Press Association onlangs uitgereik het, toon net 55 misdade is in 2013 in Engeland en Wallis aangemeld waarby afspraak-apps betrokke was.

In 2014 het dié syfer gestyg tot 204 en Oktober verlede jaar tot 412.

Hoewel hierdie syfers spesifiek van toepassing is op misdade in Groot-Brittanje, word dié tendens wêreldwyd waargeneem.

Die meeste misdade waarby veral Tinder betrokke is, het te make met geweld en seksuele geweld. Voorvalle van verkragting, aanranding en selfs poging tot moord is aangemeld.

Dié gewilde app, waarop gebruikers enkellopendes in hul nabye omgewing kan opspoor, laat kinders so jonk as 13 daarop toe. ’n Tinder-profiel word gekoppel aan die gebruiker se Facebook-profiel; daarom is die ouderdomsperk dieselfde as Facebook s’n.

Navorsing is selfs gedoen oor hoe om beter op Tinder uit te staan sodat jy meer mense kan ontmoet.

Maar misdadigers gebruik nou dié app om jong kinders te lok, hoewel daar nog nie voorvalle van ontvoering was wat regstreeks met Tinder verbind kon word nie.

Intussen hou die maatskappy vol die aantal misdade wat deur die app gepleeg word, is eintlik onbenullig. Tinder meen hulle het reeds meer as 10 biljoen gewillige deelnemers bymekaargebring; dus loop die meeste ontmoetings beslis nie uit op ’n misdaad nie.

Maar skeptici kyk anders daarna. Hulle meen die ware getal misdade weens Tinder-ontmoetings word moontlik geheim gehou. Of mense betrek nie altyd Tinder in hul polisieverslag nie.

In ’n verklaring het Tinder gesê: “Mense met slegte bedoelings sit in koffiewinkels, boekwinkels en op sosiale media en sosialemedia-apps,” en dat hierdie mense ’n “minimale persentasie” van gebruikers se ervarings op Tinder verteenwoordig.

Tog sê die maatskappy hulle beskou die veiligheid van hul gebruikers in ’n ernstige lig al is daar min wat hulle kan doen. Behalwe ’n foto of twee en ’n sin om hulself te beskryf, is daar nie meer inligting beskikbaar oor iemand wat jy op Tinder raaksien nie.

Kwesbare gebruikers kan maklik in die strik trap en seksueel en/of finansieel uitgebuit word deur mense wat hulle van geen kant af ken nie.

Peter Tatchell, ’n kampvegter vir gay regte, versoek ’n veldtog om die publiek in te lig oor die gevare van sulke aanlynafspraak-apps.

Hy meen die dae is lankal verby dat jy na iemand se huis kan gaan en dink dis ’n veilig en onskuldige ontmoeting met iemand wat dalk in ’n oomblik vir jou op Tinder na iemand interessants gelyk het.

Bronne: Metro.co.uk; SkyNews; The Independent