Dit is soos die opsitkers met ’n globaleposisioneringstelsel (GPS). Tinder, ’n app wat verlede jaar sy buiging in Amerika gemaak het, se gewildheid groei volgens die Britse koerant, The Guardian, met 25% elke week in die Verenigde Koninkryk.

Dié app is van stapel gestuur deur die moedermaatskappy InterActiveCorp (IAC) wat ook suksesvolle maatsoek-webtuistes soos match.com en OkCupid besit.

Wat Tinder egter uniek maak, is dat gebruikers potensiële maats binne ’n sekere radius na aan mekaar kan ontmoet. Om dit veiliger as ander soortgelyke apps te maak, is dit ’n vereiste vir alle gebruikers om ’n Facebook-profiel te hê. Dit stel jou in staat om te sien of julle gemeenskaplike kennisse het en keer ook dat mense meer as een profiel op dié app kan skep.

Jy sê ‘ja’ of ‘nee’ vir maats op grond van hul profielfoto en indien julle albei ‘ja’ sê, kan julle begin gesels en ontmoet. Dié app word op ’n jonger mark toegespits en die afsny-ouderdom is vyftig jaar.

Dié app is ook in Suid-Afrika beskikbaar, gaan na gotinder.com om dit af te laai.

Die goue reëls van Tinder, aldus die Guardian:

  • Geen foto’s van troues of babas as jou profielfoto nie – veral nie as dit jou eie is nie
  • Moet eerder nie die eerste foto van jouself een van jou torso maak nie
  • Moenie meer as twee boodskappe stuur voordat jy nie van die ander persoon teruggehoor het nie
  • Moenie vir meer as ’n week lank op Tinder geselsies aanknoop sonder om in lewende lywe te ontmoet nie
  • Moenie skaam wees oor jy Tinder gebruik nie

BRON: The Guardian