Tina Turner het onlangs in Zürich op ’n burgerlike troue met Erwin Bach afgehaak. Die twee beplan om weer tydens ’n Boeddhistiese seremonie trou aan mekaar te beloof, gevolg deur ’n sterbelaaide onthaal Sondag.

Die 75-jarige sangeres en die Duitse platemaatskappybaas (57), wat al 26 jaar lank ’n paartjie is, het op die oewer van die Zürichmeer getrou en beplan om weer so te maak tydens ’n Boeddhistiese seremonie Sondag, en ’n onthaal by hul huis in Kusnacht.

’n Bron het aan die Switserse koerant Schweiz am Sonntag gesê die Simply the Best-sangeres, wat al 15 jaar in die land woon, het 120 gaste, onder wie David Bowie, Oprah Winfrey en Sade, na die partytjie met sy wit tema genooi.

Tina sal na verwagting ’n Armani-rok dra en die gaste, onder wie die ontwerper Giorgio Armani, is gevra om ook wit te dra om by die tema te pas. Tina het glo briewe na haar bure gestuur om om verskoning te vra vir die chaos wat die partytjie dalk kan veroorsaak.

Die paartjie is sedert 1987 saam en het ontmoet toe Erwin as ’n platevervaardiger by EMI gewerk het. Tina, wat voorheen met Ike Turner getroud was, maar van wie sy in 1976 geskei het weens sy gewelddadige gedrag, het in Januarie aansoek om Switserse burgerskap gedoen.