KOELSTE NUWELING

Lorde

Die 17-jarige Nieu-Seelandse sanger is bekend danksy haar treffer-debuutalbum, Pure Heroine, wat vanjaar uitgereik is.

SUPER-SUSSIES

Kendall en Kylie Jenner

Kim Kardashian se jongste sussies is al gewoond aan die kollig. Kendall (18) is ’n gesogte model, en sy en haar 16-jarige suster het vanjaar ’n klerereeks met die Amerikaanse klerehandelsmerk PacSun bekendgestel.

DAPPER AKTIVIS

Malala Yousafzai

Die Taliban het Malala Yousafzai in 2012 in Pakistan geskiet toe sy in ’n bus van die skool af huis toe gery het. Sy is geteiken weens haar aktivisme om beter opvoeding vir meisies onder die Taliban se beheer te bewerkstellig. Nadat sy die aanval oorleef het, het Malala (nou 16) nie weggekruip nie, maar haar aktivisme voortgesit en sy is vanjaar vir ’n Nobel-vredesprys benoem.

MAD MEN SE STER

Kiernan Shipka

Die 14-jarige aktrise is volgens Time die koelste karakter op TV as Mad Men se Sally Draper. Kiernan speel al van die ouderdom van ses Don Draper se rebelse dogter.

GRASIE ONDER DRUK

Malia Obama

Malia (15) verdien haar plek op die lys vir haar selfversekerdheid by belangrike geleenthede. Haar pa, die Amerikaanse president Barack Obama, praat dikwels oor sy dogters in sy toesprake en sê hulle het sy standpunt oor gay huwelike beïnvloed.

POP-IKOON

Justin Bieber

Op 19 is die Kanadese popster volgens Forbes reeds meer as R609 miljoen werd. Sy dokumentêr, Believe, word op 3 Januarie 2014 uitgereik en gaan die ware verhaal agter die tienerster vertel. “Van wat ek gesien het, van hom weet en ook uit sy eie mond gehoor het, is dit die waarheid. En ek dink dis ’n interessante storie om te vertel,” het die regisseur Jon M. Chu aan MTV oor die fliek gesê.

DIE NUWE CARRIE

Chloe Grace Moretz

Die 16-jarige aktrise speel vir die eerste keer ’n hoofrol – in die nuwe weergawe van die klassieke gruwelprent Carrie, wat op 3 Januarie 2014 uitgereik word. Maar sy het al in verskeie flieks gespeel soos (500) Days of Summer, The Amityville Horror en Hugo.

OPKOMENDE STER

Hailee Steinfeld

Hailee (16) het geen vorige ervaring gehad toe sy op 13 ’n Oscar-benoeming vir haar rol in True Grit in 2010 ontvang het nie. Gaan kyk haar wetenskapfiksieprent Ender’s Game (Suid-Afrika se Gavin Hood is die regisseur) waarin sy ’n student by ’n militêre skool in die ruimte speel.

Web reference

Besoek huisgenoot.com/uitgawe vir die res van Time se Top 16 invloedrykste tieners.

BRONNE: justjaredjr.com, time.com