Prof. Tim Noakes het die status van suiwelprodukte verander van “soveel as wat jy kan eet” na eet “met versigtigheid” nadat verslankers gekla het hulle verloor nie vinnig genoeg gewig nie, het die Sunday Times berig.

Tim het erken room en jogurt  is “stilletjies” van die groen lys op die Real Meal Revolution-webtuiste verwyder, het die weeklikse koerant gesê.

Tim het aan die publikasie gesê die medeskrywers van die boek – die voedingkundige Sally-Ann Creed, kosskrywer Jono Proudfoot en sjef David Grier – het die veranderinge gemaak nadat verslankers oor stadige verliese gekla het.

Maar ’n week later was die produkte weer terug op die groen lys.

Sally-Ann het aangevoer die verslankers eet dalk te veel suiwelprodukte.

Volgens die koerant was Tim se span besig om ’n verklaring saam te stel om die verwarring op te klaar.

Hulle het ook ’n aantekening bygevoeg by die afdeling vrae wat gereeld gevra word. Dit lui: “Ons het bevind party mense verloor dramaties meer gewig as hulle suiwel uitskakel. Ons het suiwel op die groen lys gelos, maar jy sal jou gewigsverlies en suiwelinname moet dophou.”

Die aantekening lui verder dat as ’n persoon nie genoeg gewig verloor nie, moet hulle suiwel probeer uitskakel.

Tim kry sowel lof as kritiek daarvoor dat hy die “Noakes-dieet”, wat min koolhidrate en baie vet bevat, gewild gemaak het.

Dieetkundiges het hul kommer uitgespreek dat ’n vermindering in suiwelprodukte tot ’n laer inname van noodsaaklike voedingstowwe kan lei, het die koerant berig.