Michael Mochudi, besturende direkteur van Motsi Civils and Plant Hire in Welkom, sê in ’n hofaansoek om die geld terug te kry hy wou R5687,61 in Phemelo Mothupi van Kathu se Capitec Bank-rekening inbetaal, maar hy het per ongeluk die komma uitgelaat.

Toe Michael sy fout agterkom, het hy Phemelo dadelik gebel, maar dié het geweier om dit terug te betaal.

Michael se bank, FNB, het hom gevra om vorms in te vul waarin staan dat dit vyf dae sou duur om die transaksie om te keer.

Phemelo het intussen R400 000 na sy vrou se Capitec Bank-rekening oorgeplaas en sy het reeds R260 000 in ’n beleggingsrekening geplaas.

Dit het ’n dringende hofaansoek geverg om hierdie twee rekenings te vries.

Die hof sal op 5 Maart beslis of die twee die geld moet terugbetaal.