“Ek het die vrou doodgemaak,” het Tristen Kurilla (10) reguit vir ’n polisielid gesê nadat Helen Novak se lyk in sy oupa se huis in Tyler Hill gevind is, berig CNN.

Kurilla het Saterdag by sy oupa Anthony Virbitsky, Helen se versorger, gekuier toe hy by Helen se kamer ingaan om haar iets te vra, lui in ’n polisieverklaring. Die seun voer aan Helen het geskree hy moet uitgaan en hy het “sy humeur verloor”.

Kurilla het vir sy ma, Martha Virbitsky, gesê “hy het kwaad geraak, ’n kierie gegryp en dit om Helen se keel gesit”. Helen het op die punt van haar bed gesit en die seun het van agter gekom, die kierie om haar keel gehaak en dit geruk, berig The Times Tribune. “Ek het haar net probeer seermaak,” het Kurilla blykbaar aan die polisie gesê.

Die lykskouer se kantoor het bevind die hoofoorsaak van Helen se dood is “trauma aan die nek as gevolg van ’n stomp voorwerp”.

Kurilla is as ’n volwassene van moord met voorbedagte rade en aanranding aangekla en word by die Wayne County korrektiewe instelling aangehou. Die aanklaer se kantoor sê moord “word spesifiek uit die kinderwet uitgesluit”; daarom “moet ’n jeugdige wat moord pleeg as ’n volwassene verhoor word”.

Volgens hofdokumente het Martha erken sy “het baie moeilikheid met Kurilla en dat hy geestesprobleme het”. – Kirstin Buick

Bronne: thetimes-tribune.com, cnn.com, dailymail.co.uk, wfmz.com