'n Tienjarige seun van die Amerikaanse deelstaat Colorado is vandeesweek uitgevang toe hy by die skool dagga aan sy klasmaats verkoop.

Hoewel die gebruik van dagga in dié Amerikaanse deelstaat wettig is, moes die skool streng optree teen dié leerder, wat glo die dagga by sy grootouers gevat het.

Die kanse dat jou eie kind iewers in die loop van sy skoolloopbaan aan dwelms blootgestel gaan word, is byna onvermydelik, volgens die webwerf Capeinfo.com. Hulle meen elke tiener sal teen matriek aan dwelms in die een of ander vorm blootgestel word, ongeag hul woonbuurt, watter skool hulle bywoon of hoe intelligent hulle is.

As jy vermoed jou kind gebruik dwelms, moet jy dadelik hulp kry. As ouer kan jy nie net hoop dit probleem los homself op nie. Herken die tekens van dwelmmisbruik.

Gevaartekens

Fisieke gevaartekens:

  • Bebloede oë of pupille wat kleiner of groter is as gewoonlik.
  • Jou kind se neus bloei gereeld.
  • Veranderde slaap- en eetgewoontes. Skielike gewigsverlies- of toename.
  • Stuipe sonder ’n geskiedenis van epilepsie.
  • Verswakking van persoonlike higiëne en beserings wat hulle nie kan of wil verklaar nie.

Gedragstekens:

  • Jou kind loop klasse mis, hul punte verswak en beland in die moeilikheid by die skool.
  • Hulle verloor belangstelling in sport, buitemuurse aktiwiteite of stokperdjies.
  • Jy vermis geld, waardevolle besittings, voorskrifmedikasie of klere.
  • Jou kind dring skielik op ekstra privaatheid, sluit hul kamerdeur en vermy oogkontak.
  • Jou kind het skielik ’n nuwe groep vriende, kuier by nuwe plekke en beoefen ander stokperdjies.
  • Jou kind gebruik skielik wierook, lugverfrisser of parfuum om die rookreuk te verbloem.
  • Hulle is skielik gereeld in rusies betrokke met vriende en familie.

Sielkundige gevaartekens:

  • ’n Onverklaarde verandering in persoonlikheid of gedrag.
  • Hulle is met tye ongewoon hiperaktief.
  • Skielike veranderinge in buie, woedebuie of lag sommer vir niks.
  • Geen motivering nie, sukkel om te fokus en kom konstant lomerig voor.
  • Is soms onnodig bang, angstig of paranoïes.

Begin die gesprek so

Dit kan vir ouers baie spanning veroorsaak as hulle vermoed hul kind gebruik dwelms. Dit kan baie moeilik wees om ’n rustige gesprek daaroor te voer. As jy voel jy raak opgewerk, vat ’n ruskans en hervat die gesprek wanneer jy weer kalm is.

  • Wees direk en kalm. Dié saak is te ernstig om dit nie by die horings te pak nie. Vermy onnodige drama; maak seker jy is kalm voor jy met jou kind praat. Noem ook dat jy besorg is oor jou kind se welstand.
  • Voer die gesprek wanneer jou kind nugter is.
  • Vra oop vrae. Jou kind sal waarskynlik voel hy kan eerlik wees. Vrae soos: “Watter dwelms het jy al gebruik en hoe gereeld? Beplan jy om dit weer te gebruik? Hoe het jy in daardie situasie gevoel? Wat sal jy doen as dit weer gebeur?”
  • Moenie jou kind straf nie. Dit werk selde – om jou kind se selfoon weg te neem gaan nie keer dat hy dwelms gebruik nie.
  • Wys jou ondersteuning. Sê vir jou kind hoe dankbaar jy is dat hulle met jou eerlik kan wees. Hulle moet weet jy is daar om hulle te ondersteun en jy is lief vir hulle.
  • Kry hulp. Dit is noodsaaklik dat jou kind ’n opgeleide berader sien wat weet hoe om die situasie te hanteer. Dit is nie onderhandelbaar nie.

Kry hier hulp

  • Narkotika Anoniem SA

    Nasionale 24-uur-hulplyn: 083-900-69-62

    Webtuiste: www.na.org.za

  • Die departement van maatskaplike ontwikkeling se dwelmmisbruik-hulplyn

    Tolvry: 0800-12-13-14 of SMS 32312

  • Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanra)

    Sanra (Johannesburg): 08611-73422 of 011-673-0400

    Sanra (Wes-Kaap): 021-945-4080/1

- Shané Barnard

Bronne: ncadd.org, psychcentral.com, capeinfo.com, southafrica.info, na.org.za